22 Januarie 2021

Alweer ‘n nuwe jaar, 2021. Ek dink onwillekeurig terug na verlede jaar hierdie tyd. Min het ons geweet wat 2020 vir ons sou inhou. Min het ons geweet ons gaan ‘n jaar tegemoed waarin ons maskers sal moet dra, sosiale afstand tussen mekaar sal moet handhaaf en hAndréinigers voortdurend sal moet gebruik!

 

Min het ons ook geweet wat 2020 vir ons as kerk sou inhou. Die moeilikste vir die senior burgers was waarskynlik dat hul kinders en kleinkinders nie meer so gereeld by hulle kon kom kuier nie. Voeg hierby ook dat dinge soos die vinnige inloer by mekaar, geselsies met ander om die etenstafel en aktiwiteite soos bingo-aande, kaartspeel, kunsnaaldwerk klasse en lyndanse in die slag gebly het, en ons besef hoe die seniors se lewens “verklein” het!  Die omstandighede wat deur die inperkingstyd geskep is, het almal se lewenswyse geraak, maar ek is van mening dat dit ‘n veel groter invloed op dié van die senior burgers gehad het.

 

Ook van die kerk se kant het dinge noodgedwonge tot ‘n halt gekom: nie meer die gereelde Bybelstudies nie, nie meer die bidure by Othello nie en nie meer eredienste nie. Alles dinge wat vir ons senior burgers belangrik is! Kerklike aktiwiteite soos die kwartaallikse uitstappies en die gemeente basaar het ook in die slag gebly. Ons dank die Here vir die sosiale media waardeur senior burgers met mekaar in grendeltyd in kontak kon bly, na stemboodskappe kon luister en Sondae by ons eredienste kon inskakel. Op hierdie manier kon ons as kerk nog by mekaar “uitkom”, mekaar ondersteun en bemoedig. In werklikheid het grendelytyd die kerk “forseer” om op ‘n ander, nuwe maniere “kerk” te wees.

 

Ons was bly toe die Covid 19 maatreëls van regeringskant verslap is. Lidmate kon mekaar meer geredelik besoek, ekself kon weer by lidmate uitkom en die Bybelstudies kon hervat. So kon ons darem weer op ‘n meer persoonlike vlak mekaar se geloof versterk. Ons het almal uitgesien na 2021 waarin alles weer na “normaal” sou terugkeer! En toe word ons almal aan die einde van 2020 ontnugter deur ‘n tweede golf van die Covid 19 virus en ons was terug waar ons die grootste gedeelte van 2020 was. Hoe moet ons dink oor 2021?

 

Ek wil graag afsluit met die volgende opmerkings:

  • Kom ons bly die Here vertrou, Hy is die getroue God waarmee ons ons lewens lank kom.
  • Kom ons gaan voort om mekaar met oproepe, WhatsApp’s en sms’e te bemoedig en ons geloof staande te hou in ‘n moeilike tyd.
  • Kom ons probeer sovêr moontlik by ons eredienste inskakel. Op hierdie manier deel ons aan die boodskap wat die Here elke Sondag vir sy gemeente het.
  • Kom ons volhard in gebed. Ons bid vir ons land en sy mense, ons gemeente, ons kerkraad en ons leraars. Ons bid vir mekaar. Ons bid in die besonder vir hulle wat geliefdes in hierdie tyd aan die dood, en spesifiek deur hierdie virus, aan die dood afgestaan het.
  • Kom ons bid dat 2021 vir ons ‘n jaar van nuwe geleenthede, nuwe ontdekkings en nuwe groei in ons geloof sal wees.

 

Johan Morkel