30 November 2018

Liewe Gemeente

Namens my en De Eike se Kerkkoor wil ek graag elke persoon wat gehelp het om ons 2018-kerssangdiens suksesvol te laat verloop, uit my hart bedank. ‘n Mens kom in die voorportaal af op die kerstoneel wat Hester Carstens elke jaar daar bou. By die deure is die Erediensspanne ontplooi en hulle werk soos ‘n geoliede masjien en die programme wat in die kerkkantoor versorg is, is gereed. Wanneer jy die kerkgebou binnekom, is dit sterre, liggies en blomme wat die kerkgebou in ‘n feestuin verander. Fritz en Anna van Wyk kom elke jaar met iets nuuts vorendag om ons te verras. Elke bankie, liggie, stoeltjie en staander is op sy plek – Tim Burrows het gesorg. Die powerpoint is aan en vertoon pragtig – spesiale sorg van André en Thea Shaw! Voor die klankbord sit Christie van Zyl en Karel van Schalkwyk is gereed vir aksie by elke mikrofoon. Adrian is op sy plek by die ligte-skakelaars, die kerkkoor het reeds hul plekke ingeneem en die instrumente sit in die ouderlingsbanke. Die begeleier is op haar plek en die Wyse Manne (ds Hannes en Rudolph Maree) en Wyse Vrou (Petro van den Heever) wag hul oomblik af dat die Verteller (Trónell Lessing) hulle moet aankondig in die Kersspel, En toe sien hulle ‘n Ster¸wat Adinda Vermaak vir ons geskryf het.

En ná die vreugde van lieflike gemeentesang en musiek, klink ons ‘n koppietjie koffie in die saal, voorberei deur ons Vrouediens. Vir elkeen wat die moeite getroos het om ons Kersuitvoering te kom bywoon, baie dankie!

René Ferreira
Orrelis