14 September 2017
KHULA is ‘n Xhosa-woord en dit beteken Groei. Dis natuurlik nie vir ons ‘n vreemde konsep nie: Groei en Sorg is deel van De Eike se Visie en Missie. God het ons geplant, daarom Groei en Sorg ons in Sy koninkryk. Maar wat is hierdie KHULA Groentetuine wat binnekort op ons kerkgronde gesien gaan word? De Eike Gemeente is gasheer vir ‘n projek wat aangebied word deur ds. Sydney Saayman. Hy leer mense om organiese tuinbou te beoefen. Vir ons in die kerk is dit belangrik, want dis mos deel van die kerk se getuienis om mooi te kyk na God se skepping wat aan ons toevertrou is! Organiese groente- en landbou maak nie gebruik van enige sintetiese stowwe of chemikaleë nie, maar gaan terug na die natuurlike manier van verbouing.
Daar is verskeie redes hoekom ons kies vir organiese verbouing: Die eerste is dat die kos wat ons in die winkels koop, nie altyd baie gesond is nie, as gevolg van al die onnatuurlike stowwe waarmee dit verbou word. Daarby kan jy maar weet dat vars kos net al duurder gaan word in die toekoms. En les bes, sit droogtes en waterskaarstes net al meer druk op die landbousektor om die groeiende bevolking kos te gee.
Dis waarvoor ds Saayman sy werkswinkels aanbied. Daartydens voorsien hy self al die houers, grond en kompos waarin die groente verbou gaan word. Die houers is omtrent so groot soos ‘n deur, en daardeur kan ‘n gesin die hele jaar hul eie kraakvars groente verbou! Alle groente wat verbou word tydens hierdie werkswinkels, is vir die gebruik van De Eike se spens. Ons kan dus die groente oes en beskikbaar stel aan die sopkombuis, Greenpark se Creche of die koskas waaruit ons eie lidmate van kospakkies voorsien.
Sydney se idee is om naas die geleentheid wat hy so aan ons bied om ons eie groente te begin verbou, ook veral aan lede van minder bevoorregte groepe en gemeenskappe die geleentheid te gee om te leer om so vir hulleself en hulle mense kos te gee. So word dit ook ‘n geleentheid om uit te reik, en so bring ons ook verder hoop, soos ons missie sê! Nog ‘n verdere getuienis!
Natuurlik sal iemand moet help om ‘n ogie te hou oor hierdie “groentetuintjies” en dit gereeld water te gee en te versorg wanneer ds. Saayman elders besig is met werkswinkels. Dalk is jy uitgeknip vir hierdie taak. Indien jy bereid is om jou moue op te rol, gaan jy die kursus gratis bywoon! Kontak die kerkkantoor indien jy bereid is om betrokke te raak.
Die eerste werkswinkels word aangebied op 21 en 28 Oktober 2017 (Saterdae) wat ongeveer ses ure duur. Hierna is jy toegerus om jou eie groente by jou huis te gaan verbou! Koste aan die werkswinkel beloop R495,00 en dek alle uitgawes.