3 Oktober 2019

Vanoggend is my hart sommer seer.  Ons het 98 lede op ons datalys by die Kinderkerk, en ons bywoning vandag was ‘n volle 27 kinders, so asof dit al klaar vakansie is.  By die Kleuterkerk is daar tans plus minus 15 lede, waarvan 2 teenwoordig was gister.

Die rede hoekom ek so hartseer is, eintlik namens die klasleiers, is :

  1. Op die laaste Sondag van die kwartaal het ons ‘n werskafdag en maak ons kinders leermateriaal vir die Badisa moeders wat minderbevoorregte kindertjies oppas, en nie leermateriaal kan bekostig nie.  Vir die doel spandeer ons klasleiers baie tyd om oulike aktiwiteite te beplan, en spandeer ook baie geld om genoeg materiaal aan te koop.  ‘n Mens koop dan tipies materiaal aan vir 12 kindertjies, en dan daag 4 op.  Die meeste van ons klasleiers werk buitenshuis, en pas hulle hierdie aankope en beplanning in hul (min) vrye tyd in.  By sommige klassie het geen kinders opgedaag nie.
  2. Ons vra elke kwartaal in ons ouerbriewe vreeslik mooi dat die ouers ons betyds sal laat weet as hulle kindertjies nie Kinderkerk kan bywoon nie, juis om onnodige tyd en kostes vir die klasleiers uit te skakel.  Kan dit wees dat 68 kinders se ouers op die nippertjie besluit het om weg te gaan?  Of nie die erediens by te woon nie?
  3. Een van ons kleuterkerk leiers was veronderstel om ‘n baie belangrike geleentheid by te woon, maar het nie, want sy het ‘n plig gehad by die Kleuterkerk.  Wetende dat daar net 2 kinders teenwoordig sal wees, kon haar “kollega” die les alleen behartig.
  4. Laastens, toe ek die afkondigings lees, besef ek, alhoewel ons met groot liefde die Here dien as klasleiers van die Kinderkerk, is daar ook ‘n “downside”, want ons mis nogal partykeer uit op belangrike goed by die hoof erediens. Ons doen die opoffering met grasie, maar ‘n Sondag soos vandag kan nogal ‘n ou se moed breek.  In ‘n tyd, wanneer gemeentelede nogal nie in lang rye staan om diensbaar te wees nie.
  5. Die lank en die kort is, ek weet ons almal het besige lewens, en soek net soms ‘n blaaskans op ‘n Sondag omdat ‘n mens op ‘n Saterdag ook rondhardloop.  Maar laat weet net as jou kind nie gaan Kinderkerk bywoon nie!  Betyds!

Ek moes dit net van my hart af kry.  Skies as ek dalk kwaai klink.

Liefde-groete

Riëtta Odendal