15 November 2024

Liewe gemeente

 

Moeilik om te glo, maar ons Kinderkerk het wraggies hierdie jaar ons 10 jaar mylpaal bereik.  Ek kan nog goed onthou hoe ons inligting ingewin het om ‘n Kinderkerk erediens te begin, en ek en Hannes het selfs ‘n gemeente in Tableview besoek om te sien hoe hulle dinge doen.  Op die ou end was ons gevolgtrekking, dat hulle eintlik niks anders doen as ons Kinderkrans, en later KIX van destyds nie.  Hulle was geskoei op 4 W’s, naamlik Welcome, Worship, Word en Work.

 

So, nou ons eintlik KIX op ‘n Sondag, en het die les van die dag omskep in ‘n erediens boodskap.

Ons verwelkom (welcome) die kinders soggens en elke graad kry ‘n beurt om die kers aan te skakel, vir die simbool van Jesus se teenwoordigheid. Ek bid dan vir die klas en hul klasleier. Die kinders wat verjaar het, ontvang ‘n geskenkie, alles deel van welkom voel.

Ons “worship” deur middel van ons liedere, wat uitgekies word volgens die boodskap van die oggend.  Die boodskap word uit die Woord bedien, en ons leer die kinders hoe om op te soek in hul Bybels, deur middel van die Bybelboeklied.  Kinders word selfs beloon as hulle hul Bybels saambring.  Dit is te skattig hoe die graad 1’s elke liewe Sondag hul Bybels saambring, terwyl hulle eintlik nog nie eers lekker kan lees nie.  Dan kom ons by die “Work”.  Deur al die jare het die Kinderkrans altyd geld ingesamel vir ‘n sendingprojek.  Deesdae samel ons ook geld in vir behoeftige kinders in ons onmiddellike omgewing.  Vir die afgelope drie jaar was dit VGK Koelenhof, en het ons sopas besluit om van nou af betrokke te wees by Aksie Samaritaan se Sondagskoolkinders, 30 van hulle, wat elke Sondag bedien word by die “container” kerk naby die stasie.  Ons kinders geniet dit om maatjies by te staan, hetsy finansieel of met produkte of selfs op ‘n uitreik.

 

Nou ja, dit gesê, het ek gevoel hierdie 10 jaar mylpaal moet darem gevier word met ‘n konsert, wat toe plaasgevind het op 30 Augustus.  Ons het immers in 2012 laas gemeentekonsert gehou.

 

Ons konsert is geopen met die doodblaas van 10 kersies op ‘n pragtige koek, deur Marietjie Mostert vir ons gebak.  Die blasers was Ds Hannes en Lize Fölscher wat van dag een af betrokke was by die Kinderkerk.  Willmi Loots, een van ons destydse graad 6’e, en natuurlik nou ‘n pragtige volwasse vrou van 22, het ook geblaas.  Dan het die graad 4’s, wat nou 10 jaar oud is en dus in 2014 gebore is, deelgeneem, asook Cornél Loots wat op daardie dag verjaar het.

 

Ons altyd teenwoordige boeremusiek orkes, onder leiding van Louis Hurter, het ons sommer al voor die konsert trakteer met voetejuk musiek.   Slegs ‘n paar volwassenes het deelgeneem, en het ek meer gekonsentreer op kinder deelname hierdie keer.  Marieta Oliver het weer pragtig gesing, en toe verras sy ons met haar liewe wederhelf Martin wat twee liedere saamsing!   Natuurlik het die De Eike Susters met ‘n vars liedjie nie teleurgestel nie.

 

En WAS ons kinders nie pragtig nie! Jy kan gerus hier na die fotos kyk. Ons is getrakteer op ‘n lofdans op die Oorwinningslied, ‘n groep sangitem met “My Pa is die Koning”, en menige ander items.  Daar is gesing, toespraak gelewer, ballet gedoen en klawerbord items gelewer.  My hoed af vir die Lofdansers wat vir maande lank baie hard geoefen het, en soggens ekstra vroeg moes kerk toe kom.

 

Die konsert is weer eens “barnyard” styl gehou, met ons gaste wat by tafels kon sit, en smul aan hul eie kos.  Pouse-tyd kon hul ‘n gratis kolwyntjie (dis immers ons verjaarsdag) en koffie geniet.  Ons ouers het ons mildelik ondersteun, met sommer tafels vol mense. Ons was om en by 160 mense, en het R14 000 ingesamel vir ‘n fonds om ‘n nuwe klaskamer te bou.

 

Baie dankie weer eens aan die Jeugkommissie, Tim en Ruan vir die klank en beligting, ons kinders en ouers.  Alleen sou ek nie die mas kon opkom nie, en was dit weer eens ‘n fees!

 

Liefde-groete

Riëtta Odendal