17 Augustus 2018
Ek sê baaaaaie dankie vir al die gelukwensinge op Sondag, 5 Augustus, met die Kinderkerk se 4de verjaarsdag. Dit bly net ‘n voorreg om geroep te wees, en ek glo geskape te wees met ‘n spesifieke persoonlikheid en gawes, vir hierdie belangrike werk. Ek kan egter onmoontlik al die krediet vir myself vat, want vandat ons begin het op Sondag, 3 Augustus 2014, het ek ‘n ongelooflike toegewyde personeelkorps saam met my. En soos met enige organisasie of bediening, is ‘n leier ook maar so goed soos haar span. Langs hierdie weg sê ek dan ook dankie vir elke personeellid, wat Sondag na Sondag die formele erediens misloop, en met groot liefde, en soms frustrasie, sy of haar uiterste bes doen om ons kosbare kinders te bedien met die Woord van God. Vier van ons stap die pad al vir vier jaar, en soos die jare aangestap het, het ons ook wonderlike nuwe personeel verwelkom, elk met hulle eie gawes en liefde vir kinders. Dis te wonderlik, die Here voorsien ALTYD vir ons die regte mense. Ons het reeds vir volgende jaar DV al twee jong mammas wat gaan inskakel.
Ek wonder toe nou, vir wie sal ek vra om die 4 kersies op ons “reuse” verjaarsdagkoek dood te blaas (verlede jaar was Ds Hannes toevallig aan diens, en het hy dit gedoen). Ek besluit toe om ons “finalejaars”, die graad 6’e, die geleentheid te gee. Dit was ook lekker vir die graad 2’tjies om te hoor dat hierdie vier graad 6 dogters wat Sondag teenwoordig was, so oud soos hulle was toe ons afgeskop het met die Kinderkerk. Op die foto sien ons van links na regs Leila Allie-Reid, Annica Strydom, Emily Clark en Anri Roelofse, met Tené de Wet (ons graad R assistent) in die middel. Soos dit by enige partytjie hoort, is elke kind met ‘n boksie smarties bederf (eers aan die einde van hulle lessie anders wend hulle dit dalk aan as ‘n musiekinstrument, hehe.)
Nou ja, Voorwaarts Christenstryders, vir die volgende 4 jaar, of soos Ds Francois Cillié sê, die volgende 40 jaar!
Liefde-groete,
Riëtta Odendal