15 Augustus 2019

Liewe De Eike Gemeente

Dit is ‘n groot voorreg om vanjaar 5 jaar by die Kinderkerk betrokke te wees. Aanvanklik was dit iets wat van min af met net ‘n paar klasleiers moes begin en het Tannie Riëtta vir ons temas uitgewerk volgens haar vorige ervaring by die Kinderkrans, sy het seker gemaak ons elkeen het ‘n dik pak handleidings met klomp idees vir aktiwiteite om ons toe te rus en roosters uitgewerk van wanneer watter lesse plaasvind. Min het ek geweet van wat agter die skerms aangaan waar sy alles van voor af moes begin en rekord hou van getalle, sang, reël vir mense wat preke behartig wanneer sy nie daar kan wees nie, ‘n databasis van ons kinders opstel en nog baie meer. Ek was gelukkig om as koördineerder die jaar van dié basis gebruik te maak wat sy begin het en daarmee voort te gaan.

In my rol as koördineerder word ek pal herinner daaraan dat ek slegs ‘n deeltjie van die liggaam in Jesus is, dat ek sterkpunte het wat aangewend kan word vir die Kinderkerk, maar dat ons ook die ander mense se gawes in die span nodig het om die Kinderkerk suksesvol te kan hardloop tot eer van die Here. Byvoorbeeld: ek is baie gemaklik om die Powerpoint te maak en om admin take agter die skerms te doen, maar my senuwees is op as ek voor ‘n groot groep mense moet praat. Gelukkig is dit weer deel van Tannie Riëtta se gawes. Ons gesels nog baie saam oor ons idees vir die Kinderkerk, sy is opgewonde om dit wat sy deur haar kinderbediening studies hierdie jaar geleer het toe te pas in ons Kinderkerk.

Ek is so dankbaar vir die span mense wat hierdie jaar deel is van die Kinderkerk, die eerste vier jaar het mens dit amper net aanvaar dat almal ‘n werkie doen, maar ek het ‘n nuwe waardering ontwikkel vir die werkie wat elkeen verrig al is dit net om te help met die sterretjies plak vir die projek of om ‘n nuwe ouer en kind welkom te laat voel.

Dis ook vir my ‘n groot voorreg om deel te wees van die projekte wat ons aanpak. Ek het ‘n liefde vir kinders en gemeenskapdiens en deur die fondse en donasies wat ons insamel het ons Kinderkerk deur die jare al soveel ander kinders se lewens aangeraak.

Vanjaar is ons betrokke by Bottelary Laerskool. Ons het met ‘n onderwyseres by die skool ontmoet wat ook deel is van ons gemeente, Shariska. Daar het al ‘n paar kinders vir ons kom kuier en Shariska was in staat om klomp skool sweetpakke en skoolskoene aan te koop met die fondse wat ons insamel. Ons het die jaar tot op datum al R3669 ingesamel. Dankie vir die donasies van klere, skoolskoene en skryfbehoeftes, selfs ‘n tannie wat baie Sondae Kinderkerk saam met haar kleinseun bywoon  wat mussies en serpe vir die kindertjies gebrei het. Dankie vir elkeen se bydrae. Ons sal volgende week die fototjies wat Shariska onlangs gestuur het deel.

Verder is ons steeds betrokke by Badisa Kuilsrivier se vroeë kinderontwikkeling speelgroepies met die dagmoeders. Ons het hierdie jaar kwartaalliks ‘n Sondag uitgesit as ‘n werskafdag waar ons leermateriaal maak vir die kindertjies wat jonger as 6 jaar is gemaak het. Indien daar iemand kreatief is wat vir ons hiermee wil kom help is julle meer as welkom. Ons volgende werskafdag is 15 September. Kontak my asb voor die tyd indien jy deel hiervan wil wees.

Tannie Riëtta het dit ook reeds genoem: ons benodig hulp met die sang en iemand wat kan help om volgende jaar die Graad 1 klassie te neem.

Ek wil net baie dankie sê vir Tannie Riëtta en oral waar sy steeds betrokke is, al is dit die jaar wat sy studeer, behartig sy steeds helfte van die preke en sang elke kwartaal. Sy reël ook die sang selfs wanneer sy nie daar kan wees nie. Sy behartig die reëlings vir die Gesinsdiens een keer per kwartaal. Sy kan ongelukkig nie by die kwartaal s’n wees op 25 Augustus nie, maar sy het steeds reëlings daarvoor getref. Ek hoor daar gaan ‘n baie oulike preek wees – moet dit nie mis nie!

Dankie vir ons Kinderkerkleiers wat die klassies behartig – Carol, Heidi, Lindie, Stefanie, Tannie Sonja, Tiaan, Joelene en Riaan. Dankie vir die personeel by die kerk wat ons ook ondersteun Tannie Cathy, Tannie Mariana en Oom Tim. Dankie vir die Dominees wat ook by ons kom preek en die ander wat by ons aflos vir preke Theresa Swart en veral Conrad Groenewald wat ons in ‘n krisis kan kontak die week voor die preek plaasvind! Dankie vir die mense wat ons klassies aflos, ons het mees onlangs vir Tannie Sanel Rust gevra, dit gebeur nie dikwels dat ons ‘n aflos nodig het vir ‘n klassie nie. Dankie ook vir die ouers se betrokkenheid.

Soos julle kan sien is dit ‘n groot span mense wat nodig is om die Kinderkerk vlot te laat verloop.

Romeine 12:4-5 Want soos ons in een liggaam baie lede het en die lede nie almal dieselfde werking het nie, so is ons almal saam een liggaam in Christus en elkeen afsonderlik lede van mekaar. (Sien ook Korintiërs 12 vanaf vers 4.)

Onder sien jy twee foto’s wat by die geleentheid geneem is, en nog een getuienis van ‘n Kinderkerkleier – Red.

Ten slotte stel ons vir Tiaan aan die woord. Hoor wat sê hy oor sy betrokkenheid by die Kinderkerk:

“My bediening by die kinderkerk het so ongeveer drie jaar terug begin by De Eike Gemeente en op daardie stadium (as ek nou reg onthou) was daar nie regtig ‘n tekort in nuwe klas leiers nie. Tannie Riëtta het my toe ‘n goue geleentheid gegun om by haar klas te assisteer wat toe gevolglik gelei het dat ek die klassie sou kon oorvat. Nie net was ek so bevoorreg om tot vandag toe ‘n pad saam dieselfde groepie te kon stap nie, maar in die proses het ek so baie geleer van myself en ook net weereens besef dat ons is nooit te jonk om ‘n pad saam die Here te stap nie. Ek was al op verskeie geleenthede stom geslaan oor hoe baie kennis die kinders het van die Bybel! Ek hoop regtig vir so lank as wat dit my roeping is, want ons almal weet dat die Here ons koers bepaal, dat ek kan deel wees van hierdie wonderlike kinderbediening by De Eike en om saam die vreugde en liefde te kan ervaar wat die kinders het vir Jesus. As dit sekerlik nie ‘n glimlag op jou gesig los nie, dan weet ek eerlik waar nie wat sal nie.”

Tiaan Theron.