31 Augustus 2018
Hierdie is een van die oudste uitbeeldings van Jesus. Dit wys hoe Jesus die verlamde man genees. Dit dateer vanuit 235 n.C. en die oorsprong van hierdie uitbeelding kom vanuit Dura, ‘n stad in Syria.
As jy op die internet soek, kry mens menigte uitbeeldings van Jesus Christus. Al hierdie beelde omskryf iets van mense wat regtig soekend is na die werklike uitbeelding van Jesus Christus. Dit omskryf ook die gedagte van mense wat ‘n konkrete beeld soek van Jesus, amper asof ons ‘n beeld soek soos ‘n selfoon wat ons fisies kan vashou in ons hande.
Hierdie is ‘n ander beeld van Jesus. Dit is in die derde eeu n.C. geverf en beeld Jesus uit as die goeie herder. As mens mooi na hierdie beeld kyk sien mens Jesus sonder ‘n baard. Hy is ‘n jongman wat skape oppas.
In werklikheid is daar eintlik geen beskrywing, in die evangelies van hoe Jesus gelyk het nie. Ons weet wel wie Jesus se aardse ma en pa was. Ons weet wat hulle name was en waar hulle gebly het (Matteus 1 en 2).
Ek sou graag ‘n ander aanslag op die soeke na Jesus se identiteit wou gee. Dit is vir my as ouer baie interresant dat Jesus nooit op sy fisiese identiteit gefokus het nie. Hy was glad nie gestel op waar Hy bly, wat Hy aantrek, of wat Hy doen nie. Hy het nooit enigsins gefokus op die uiterlike werklikhede nie.
Dit laat my egter dink of ons nie anderste moet dink oor Jesus se uiterlike identiteit nie. As ons kinders dan vir ons vra, “hoe het Jesus gelyk,” wonder ek of ons nie eerder moet fokus op die identiteit wat Jesus vir ons gelos het nie. ‘n Goeie plek om te begin is dalk om by Jesus se “Ek is” uitsprake te begin.
Jesus noem 8 “Ek is” uitsprake. Hierdie uitsprake vorm ‘n prentjie van Jesus se Goddelike betekenis vir mense. Jesus maak hierdeur God bekend aan die wêreld, in terme van ‘n ryk Ou Testamentiese verstaan. Die 8 uitsprake is:
- Ek is wat Ek is (Joh. 8:24,58) – volgens Eksodus 3:14.
Ek is die brood wat lewe gee (Joh. 6:35,48) – volgens Eksodus 16:4. - Ek is die lig vir die we?reld (Joh. 8:12) – volgens Jesaja 49:6.
- Ek is die ingang vir die skape (Joh. 10:7, 9) – volgens Esegiël 41.
- Ek is die goeie herder (Joh. 10:11,14) – volgens Esegiël 34.
- Ek is die opstanding en die lewe (Joh. 11:25) – volgens Jesaja 53:7-12.
- Ek is die weg en die waarheid en die lewe (Joh. 14:6) – volgens Jesaja 30:20-21.
- Ek is die wingerdstok (Joh. 15:5) volgens Jesaja 5.
Wat hierdie uitsprake uniek maak, is die lewe gewende identiteit wat dit vir ons gee. Indirek bemagtig hierdie uitsprake ons identiteit in Christus. Ek wonder of ons as ouers nie ook hierop moet fokus as dit by ons kinders kom nie. Dit is maklik om ‘n fisiese identiteit aan Jesus te koppel, maar in wese is dit moeiliker om hierdie lewegewende identiteit te vestig by ons kinders. Die realiteit is dat Jesus ook ‘n mens was wat:
- moeg geraak het (Joh. 4:6);
- dors geraak het (Joh. 19:28);
- gehuil het (Joh. 11:35);
- gebloei het aan die kruis (Joh. 19:34).
Hierdie menslike eienskappe bevestig Jesus se menslikheid. Dit moet ons en ons kinders bemagtig met die wete dat Jesus se menslikheid juis verstaan waardeer ons elke dag gaan. Waar Jesus se “Ek is” uitsprake vir ons hoop moet gee, bied hierdie menslike eienskappe vir ons troos. Hoekom, want Jesus het dit ook ervaar.
Ten slotte
As ouers is ons soms gefokus op hoe ons kinders moet lyk. In wat se skool hy/sy is. In wat se karstoeltjie hy/sy moet sit. In wat se speelskooltjie hy/sy is. Koop ons by “Naartjie” of “Peps.” In plaas daarvan dat ons miskien fokus op hoe Jesus gelyk het, moet ons dalk fokus op dit wat Jesus ons agter gelaat het.
Die werklikheid is. Die beste belegging wat ons enige kind kan gee, is die waardes wat Christus ons gelos het. Dit is goeie beginsels om tande te borsel, hare te was, netjies aan te trek, en skool toe te gaan. Dit is net so belangrik om Jesus se identiteit toe te laat om ons kinders te vorm. ‘n Vriendin van my het my eendag gekonfronteer met die volgende stelling: Die beste aftree-polis wat jy ooit kan koop, is om na jou kinders te kyk.
Die beste kompliment wat my seun my ooit sal kan gee is, “my pa het my geleer van Jesus, en dit is my lewensfondasie.”