24 Augustus 2018

Het jy al ooit gewonder hoe God lyk?  Ek dink dit raak baie moeilik om aan God te glo, juis omdat ons nie vir God as mens by “Google images” kan opspoor nie.  Ons kan nie vir God beperk tot een enkele beeld nie.  As kind het ek het altyd hierdie idee gehad van ‘n God as ‘n “ou-man” met ‘n groot baard.  So regte kinderbybelkarakter.  ‘n Regte oupa-figuur wat altyd tyd maak vir sy kleinkinders.

Het jy as ouer regtig al gewonder hoe God lyk?  Dit is ‘n vraag wat alle kinders een of ander tyd vra.  As ouers gaan die verstaan en werklikheid van hierdie vraag baie groter raak.  Baie wetenskaplikes en teoloë glo dat kinders se beeld van God het baie te make met hul wêreldbeskouing en wêreld ervaring.  Daarom kry jy kinders wat glo dat God nie ‘n Vader kan wees nie.  Juis weens die afwesigheid van ‘n Vader in hul eie lewens.  Jy kry ook kinders wat glad nie aan God as Vader kan dink nie, weens huishoudelike mishandeling.  Dit is dan juis weens hierdie kontekstuele omstandighede wat jy kry dat kinders aan God dink as ‘n moederlike figuur.  Jy kry selfs kinders wat geen beeld van God kan vorm nie, juis weens ‘n totale afwesigheid van ouers.  Dit is vreemd, maar tog ‘n werklikheid.

In ‘n joernaal vir die wetenskaplike studie oor godsdiens, het hulle die volgende gevind:

“How do children’s perceptions of parents relate to their perceptions of God? Two samples of children ages 4 through 11 (N = 49 and 94) indicated their perceptions of parents’ and God’s nurturance and power and reported on discipline in the home. Despite differences between the two samples in race, socioeconomic status, and religious affiliations, remarkably consistent findings were demonstrated when parents were perceived as nurturing and powerful (especially when mother was perceived as powerful and father was perceived as nurturing), children perceived God as both nurturing and powerful; more like father in early childhood and more like mother or both parents in middle childhood. God seems to become the perfect ”substitute attachment figure” as children separate from parents with age, or when fathers are absent from the home. Girls’ images were more related to parents’ attributes and discipline styles than were boys’ God-images. In childhood, it is parents who directly and indirectly impact God-images.”

Hierdie is slegs een studie oor kinders se ontwikkeling van ‘n godsbeeld.  Ek weet van talle ander wat ook dieselfde bevind.  In werklikheid plaas God ‘n groot verantwoordelikheid op ons skouers.  Gelukkig weet ons dat Hy ons glad nie alleen laat nie, daarom is die eerste plek waar ons kan begin:  “Bid elke dag vir julle kinders.

Om terug te kom na die vraag, “Mamma / Pappa, hoe lyk God?”  Ek sou wou glo dat die vraag weereens tweeledig verstaan moet word.

1) Kind se verstaan – Ek glo die beste plek om te begin is om jou kind weereens te vra, “Hoe dink jy lyk God?”  Hierdeur behoort jy waarskynlik ‘n baie sterk idee te kry oor jou kind se beskouing van God.  Dit gaan nie hier oor die regte of verkeerde antwoord nie, maar dalk eerder oor hoe jou kind God ervaar.  As jy ‘n antwoord kry waarvan jy nie hou nie, is dit nooit sleg om te vra, “Hoekom dink jy so?” of “hoekom ervaar jy God so?”  Hier is drie beelde wat ek kon opspoor op die internet wat dalk kan help.  Hierdie is ander kinders se ervaring van

God:

 

Hierdie is drie uiteenlopende beelde van God, wat dalk ietsie sê van die kind se leefwêreld.  Dit laat mens dink.  Ons fokus as ouers moet sodoende wees op die vestiging van gesonde beelde oor God.  As ek en my vrou soms ‘n verskil het, dan hoor ek dit in Daniël se wêreldbeskouing.  As daar baie liefde in die huis is, dan hoor ons dit ook.  Ek kan onthou hoe hy eendag na my toe kom en sê, “Pappa, ek is lief vir Jesus!”  Dit is my hoop, dat my kind altyd so sal dink oor God.

2) Ouer se verstaan – Ek kan natuurlik vandag vir almal vra, hoe dink jy oor God?  Wat is jou denke en verstaan oor God?  Wat is die beeld wat jy vorm oor God?  Die Bybel help ons om iets van God te verstaan.  Hier volg ‘n paar voorbeelde:

Johannes 10:14-15 – “Ek is die goeie herder, en Ek ken my eie en word deur my eie geken.  Net soos die Vader My ken, ken Ek ook die Vader; en Ek lê my lewe af vir die skape.”

 

Jeremia 9: 24 – “maar laat hy wat wil roem, hom hierop beroem dat hy verstaan en My ken, dat Ek die Here is wat goedertierenheid, reg en geregtigheid op die aarde doen; want in dié dinge het Ek ’n behae, spreek die Here.”

Eksodus 3: 14 – “En God sê vir Moses: Ek is wat Ek is. Ook sê Hy: So moet jy die kinders van Israel antwoord: Ek is het my na julle gestuur.

So is daar menigte beelde in die Bybel van wie God is en hoe God homself identifiseer.  Die vraag is egter, “leef ek op so ‘n manier dat my kind hierdie beelde van God ervaar.”  Ek glo God raak sigbaar aan ons kinders deur die manier hoe ons leef en praat.  As ons liefde gaan leef, gaan God altyd liefde wees.  As ons hoop gaan leef, gaan God altyd hoop wees.

Hoe dink julle kinders oor God?