7 Mei 2020

Vroeër die maand ’n versie geskryf na ’n RSG-versoek vir korona-gediggies

Die dwaas se hart sê daar’s geen God nie;

Niemand anders beheer my lot nie;

Ons is kragtig en so magtig;

Onaantasbaar, dis waaragtig!

 

Maar nou die kleine, kleine kiem

Wat ons mag en krag so striem.

In die kryt se een hoek staan die mens;

En oorkant die virus met sy sens:

 

Dis MIV en SARS en hondsdol pokke;

Ook ebola, vigs en ander skokke.

Die Swart Dood het in ’18 afgemaai

En nou korona wat paniek wil saai.

 

Mens, jou dae is soos gras

Maar hou aan hierdie wete vas:

Ons is potklei, Hy die Bakker;

Hy’s almagtig; ons is swakker.

Die dood se angel is getrek

Want eendag word ons weer gewek.

Die Lydensverhaal – die eeue-oue evangelie wat nuut en vars bly

“Hosanna! Gee eer aan Dawid se Seun!

Ons volk se redder, op jou kan ons steun.”

Die Koning ry op ’n esel se vul;

Die stad van Dawid verwelkom Hom gul.

 

Palms se takke word wyd uitgesprei:

“Bring lof aan die man wat ons gaan bevry.”

Brood sonder suurdeeg word voorberei;

En lammers vir pasga gereed gekry.

 

Die Heiland die kniel om voete te was;

Hy die dienskneg; elk dissipel ’n gas.

Die steen deur die bouers afgekeur,

Word die hoeksteen wat almal moet eer.

 

Die Manna van die Lewe breek die brood;

Hy skou vooruit na Sy nad’rende dood;

Terwyl die silwermuntstuk se baas,

Hom skaam-besete na buite haas.

 

In die tuin smeek Hy in die lig van die maan:

“Vader, laat dié beker tog verby My gaan”.

Die Heiland sak neer in angs van die dood;

Sy sweet drup soos bloed in Sy diepe nood.

 

“Verraai jy die Seun van die mens met ’n soen?

Gaan voort en maak klaar met wat jy moet doen!”

Uiteind’lik was die beursman toe geen held;

Sy loon was die dood met bloed aan sy geld.

 

Hul spoeg Hom; hul klap Hom en het Hom geslaan;

Toe word Hy geblinddoek om Raad toe te gaan.

 

Vér by ’n vuurtjie loën Simon se stem;

Dit sny deur die Lam soos ’n skerpe lem:

“Dit sweer ek, Hóm ken ek van geen kant nie;

Tussen Hom en my is daar geen band nie!”

 

Die haan die kraai; hy vlug na buite heen;

En daar begin hy bitterlik te ween.

 

“Spyker  Hom wat laster aan ’n kruis!

Dis mos Hy wat ons Jahweh verguis.”

“Ek is onskuldig aan dié Man se bloed!”

Maar diep in sy hart sou sy skuld bly woed….

 

Vér van Cirene dra Simon Sy kruis

Hy swik-strompel voort; Hy’s nog nie Tuis.

 

Sy pad eindig by die Kopbeen se Plek;

’n Kroon van dorings moet Sy hoof bedek;

“Dit is Jesus, die koning van die Jood.”

“Maar waarom oorwin Jý nie die dood?”

 

“Vrou, My moeder, dit moet u tog verstaan;

U moet bly as Ek na My Vader gaan.

En jy, dissipel wat van liefde vertel;

Sien mooi na haar om, in wee en in wel.”

 

“Ek is dors!” roep Hy uit in kragt’lose pyn;

Maar al wat Hy kry, is ’n spons met asyn.

 

“O dink tog aan my wat wel in U glo!”

“Vandag is ons saam in My ryk daar Bó.”

 

Hul spot Hom, hul hoon Hom; het geen begrip;

Nóg terugwoord; nóg wraakwoord kom oor Sy lip.

“Vader, vergewe tog dié wat My haat;

Maar, waarom, o waarom, het Ú My verlaat?”

 

Sy klere verdeel hul deur daaroor te loot,

Sonder gevoel vir Sy lyding en dood.

 

Dit is volbring! Dit is volbring!

Sy aardse pad voltooi ’n kring.

 

Skaars het Hy ’n laaste asemteug gegee,

Of die tempel se voorhangsel skeur in twee.

In die doodskaduwee se dal,

het die Koringkorrel geval………

 

Van Sy liggaam word daar geen been gebreek,

Maar ’n spies word diep in Sy sy gesteek.

Die aarde die bewe; die lug word pikswart;

“Dié Man was Gods Seun, weet ons diep in die hart.”

 

Hulle lê Sy liggaam in die klipgraf neer

Met nardus se reuk en harte so seer.

Die Sondagmôre was die grafdeur oop;

Die dood is oorwin; ons is vrygekoop!

 

Sy sien twee eng’le  waar haar Meester moes lê;

En haas haar terug om dit vir ander te sê.

Op pad na Emmaus loop twee somber aan;

Hy breek die brood en verdryf so hul waan.

 

“Kom, Thomas, en druk nou jou hand in My sy;

Kom voel met jou vingers hoe erg Ek moes ly.

Gelukkig is almal wat glo sonder sien;

Wat aan My Wóórd vashou en My toe-oë dien.”

 

“Ek gaan nou vooruit, na My Vader se huis;

Daar’s woonplek vir baie, dáár voel jy tuis.

Geen mens word as weeskind op aarde gelaat;

Die Voorspraak is naby as hemelse Maat.”

 

“Wat Ek julle nalaat, is My vrede;

Dit heers oor almal se hart en rede.

Die nuwe gebod is: Wees lief vir mekaar;

Wees nie ontsteld nie; Ek sal jul bewaar.”

 

“Gaan heen na die wêreld se verste grens;

Maak mense dissipels, dit is My wens.

En dit moet elkeen van jul tog onthou;

Ek’s met jul vir altyd; daar’s g’n rede vir rou.”

 

So het Hy vir elkeen van ons gely;

Sy pyn en Sy leed maak ons ewig vry.

 

“Dit is waarlik volbring”,

kan Sy kinders uitsing.

Met dankbare hart oor ons blye Lot:

“Waaragtig! Ja, Hy’s die Seun van God.”