10 Julie 2020
Liewe gemeente, ek bly verstom, wil sommer hande klap. Die Here werk beslis in ons gemeente se harte, maar meer nog, as ek na die bestanddele kyk, hoeveelhede en soorte, dan weet ek dat julle luister. Ek ervaar dat die reaksie op ons spesifieke vrae t.o.v. soorte bestanddele, ‘n bewys is dat hierdie weeklikse nuusbrief beslis gelees word.
‘n Boer stuur vir ons blomkool. Ek deel uit, maar dis so baie dat ek nog planne moet maak. Huis De Kuilen kry toe ook ‘n ruim skenking blomkool (hulle is baie dankbaar), en toe bied ‘n dame aan om gepiekelde blomkool in te maak. Sy bring die volgende week ‘n dosyn mayonnaise bottels vol blomkool “piekels’’.
Die bybelstudie groep in Othello stuur nou kort-kort vir ons saam met al die ander skenkings, ‘n paar bottels waarin die bestanddele vir sop pragtig in lae bymekaar gesit is. Al wat nodig is, is kookwater. Dis vir my so ‘n bewys van mense wat iemand spesiaal wil laat voel met so’n pragtige item in die kospakkie.
Iemand wat gister sy gesin se kospakkie kom haal, getuig van hul dankgebede elke dag en daarmee saam hul seënbede vir almal wat die lewe vir hulle draaglik maak. Hy vertel van iemand wat by hom kom aanklop vir 5c, hy vra toe of dit nie dalk R5 moet wees nie. Die uiteinde van die gesprek is dat hy nie R5 kon gee nie, maar van sy kospakkie met haar kon deel.
Julle sal verstaan waarom Halleluja 245 nou die heel tyd deur my kop maal: “Tel jou seëninge een vir een…”.
Groete