2 Oktober 2020

Liewe gemeente,

De Eike is baie bevoorreg om in hierdie moeilike grendeltyd waar mense sonder inkomste en hoop geraak het, deur die ‘drop & go’ te help om kos op die tafel te sit.

Baie dankie aan elke lidmaat wat ‘n bydrae gemaak het. Sommige het op ‘n Dinsdag onthou en vinnig iets uit die koskas gehaal om te bring, ander het planmatig inkopies gaan doen om te help. As ‘n lidmaat ‘n groot aantal maskers bring ‘omdat mense wat nie geld het om kos te koop nie, seker nie geld het vir maskers nie’, dan weet ek daar is lidmate wat met hul harte luister.

Die verskillende bydraes het my soms baie diep geraak. Soos iemand wat self in nood is wat botteltjies beet en koolslaai inlê, omdat sy op só ‘n manier ook ‘n bydrae maak. Vir my is dit ‘n moderne weergawe van die laaste pennie van ‘n arm weduwee. Ander bak koekies of maak lekkers wat ‘in elk geval vir die basaar sou gaan’. Lidmate het ook geld bygedra juis om ons in staat te stel om spesifieke aankope te kan doen.

Die blydskap op iemand se gesig as ‘n botteltjie grondboontjiebotter of ‘n pakkie sout in sy pakkie is, verander baie opofferinge in groot vreugde.

Ek wil die mense van Othello uitsonder vir hul gereelde bydraes. Ook vir Cedric Pretorius en Donovan Jacobs wat sommer ingeval het en nou gereeld help met die pakkies, ook wanneer ek nie beskikbaar is nie. ‘n Groot dankie vir elke lidmaat se omgee en voorbidding vir De Eike se drop & go projek.

Die nood is steeds baie hoog. Bydraes het die afgelope maand minder geword terwyl die mense wat gehelp word nog steeds hulp nodig het. Voorrade is baie laag en ons sal aankope moet doen om sinvolle hulp te kan bied.

Sal jy drop & go asseblief ondersteun om iemand in nood te help?

Bring jou bydrae Dinsdae tussen 10:00 en 11:00 kerk toe. Bel of whatsapp my as jy wonder wat ons nodig het.

Piet 0823750259.