19 Junie 2020
Liewe gemeente, ek staan weereens verstom om God se genade te sien en te beleef deur die reaksie op die “Drop&Go”-projek. BAIE dankie vir u deelname, u gesindheid, u goedheid en u omgee.
Ons ontvang weekliks voorraad om ons kospakkies op te maak. Om die waarheid te sê, het ons baie meer ontvang as waarop ons gehoop het. Die uitsonderlike omgee wat sigbaar is in die bydraes wat ons ontvang, laat mens dankbaar-skaam voel. Ons kry gereeld van ‘n egpaar ‘n 20 of wat pakkies lekkergoedkoekies (tuisgemaak) wat netjies toegedraai is. Die lidmaat wou dit vir die basaar maak, maar gebruik nou die bestanddele om mense in nood te seën met so ‘n bederfie. ‘n Dame is geseën deurdat haar tandheelkundige behandeling vir haar gratis gedoen word. Sy gebruik toe ook die geld wat sy oor maande afgeknyp het, om haar bydrae te maak tot die kospakkies.
‘n Ander lidmaat skenk ‘n groot voorraad grondboontjiebotter. Die waarde van die geskenk wat ‘n droë sny brood in ‘n energiehappie verander, is vir my baie kosbaar. Lidmate wat nie by die winkel kon uitkom nie vra verskoning dat hulle sommer maar gebring het wat hulle in die kas gehad het – verskoning? Nee! Baie dankie!
Die grootmense in Othello stuur tuisgemaakte koekies netjies in porsies verpak en vanoggend weer, ‘n paar bottels met sopbestandele wat aanskoulik lyk as mens die lae bestandele so in die bottel sien. Net kookwater is nog nodig.
Dit bring my by die dankbaarheid van die mense wat gehelp word. Omdat ons hulle privaatheid respekteer, weet ek op ‘n paar uitsonderings na nie wie hulle is nie. Wat ons wel weet is dat daar tussen 8 en 14 gesinne is, aan wie ons op hierdie manier ondersteuning gee. Sommige laat weet dat hulle vir eers genoeg het, want my ervaring is ook dat die hulpbehoewendes met sorg hul kospakkie geniet en dan weet ek ook dat sommige van hulle al ander gehelp het wat te skaam was om hulp te vra.
Laastens wil ek, op versoek van ‘n paar lidmate, meer spesifiek wees oor waaraan ons op die oomblik behoefte het.:
- Konfyt of stroop
- Blikkiesgoed wat goed werk saam met pasta
- All Bran flakes
- Rooibostee
- Sout en peper
- Kruie – om die kos so bietjie geur te gee.
- Wit en bruin asyn
- Margarine
- Toiletware
- Shampoo
- Deodorant
- Wet wipes
- Sneesdoekies
- Skoonmaakmiddels
- Waspoeier
- Wasgoedseep
Betanddele waar ons voorraad laag is:
- Blikkies
- Ertjies
- Gemengde groente
- Geurmidddels soos vleisekstrak
- Blatjang
- Mayonnaise
- Kitspoedings en jellies
- Pakkies lekkers of ander ‘snacks’.
- Skottelgoedseep en ander reinigers.
- Wassponsies en afdroogdoeke.
Namens almal wat nou al bykans vier maande sonder inkomste leef, en die moed gehad het om via hul dienswerkers en blokleiers vir ons van hul nood bewus te maak, wil ek baie dankie sê. U maak die lewe draaglik. Dra asb. ook gereeld hierdie lidmate in jul gebede.
Aan die hulpbehoewendes wil ek en al die ander wat betrokke is ook dankie sê, want julle gee ons ook ‘n ervaring van dat wat ons doen die moeite werd is.
Slotopmerking:
Ons het ook ‘n versoek gekry om betrokke te raak by ‘n versorgingshuis vir 10 dogters van Durbanville Kinderhuis. Hulle is in Matriek en die persoon wat die rol van hul ma in die huis vertolk, is een van ons lidmate. Ons betrokkenheid sal tans net eers fokus op fisiese behoeftes soos kos. Hiermee het die Here vir De Eike nog ‘n deur oopgemaak om regtig ‘n verskil te maak!
Piet Rootman