17 Augustus 2018

Plaaslike media bronne het op Sondag 5 Augustus berig dat die Islamitiese Revolusionêre Wagkorps  grootskaalse vloot oefeninge in die Straat van Hormuz gehou het.  Hormuz is in die Persiese Golf  en ‘n belangrike seeweg vir die globale verskeping van olie.  Dit het aansienlik vroeër in die jaar plaasgevind as wat verwag is, en volg op ‘n reeks aggressiewe tweets tussen die Iraniese president, Hassan Rouhani en die Amerikaanse president, Donald Trump die afgelope maand.  Dit val ook saam met die herinstelling van ekonomiese sanksies wat op 7 Augustus in werking getree het met ‘n tweede  ronde swaarder sanksies wat  op 4 November ter wagte kan wees.  Daar is ‘n bestendige toename in druk vanaf Amerika op Iran na aanleiding van Washington se bekendmaking in Mei dat Amerika onttrek van die Iraniese kernooreenkoms.

Sondag is berig dat Iran voornemens het om buitelandse valuta-reëls te verslap in ‘n poging om ‘n ineenstorting in hul geldeenheid te verhoed. Die eenheid het sedert April die helfte van sy waarde verloor weens vrees oor die sanksies. Die dalende geldeenheid en stygende inflasie het verdere optogte dwarsoor die land tot gevolg gehad. Die protesaksies oor die afgelope ses maande is relatief geïsoleer, wyd verspreid en veel kleiner as die anti-regering demonstrasies wat in 2009 plaasgevind het toe miljoene die strate ingevaar het, maar hulle weerspieël ‘n algemene tema van toenemende ontevredenheid. Aktiviste wat krities teenoor die regering is sê egter dat Iran se leierskap nie onder bedreiging is nie aangesien daar nie ‘n verenigende leierskap of duidelike agenda bestaan onder die protesaksies nie.

Daar word deur ‘n aantal bronne berig dat die Kerk in Iran een van die vinnigste groeiende kerke ter wêreld is.  As gevolg van hewige vervolging is dit oorwegend ‘n “ondergrondse kerk” wat bestaan uit talle individuele huiskerke. Daar is ‘n  toenemende rusteloosheid onder die bevolking van Iran en die vraag wat gevra word is watter impak dit op die kerk gaan hê?  Sal die rusteloosheid lei tot groter vervolging of moontlike groei van die kerk?

Bid saam met ons vir Iran en die Iranse Kerk gedurende hierdie onvoorspelbare en onstabiele tye.

“Om die werk van God te doen, is gevaarlik. Om dit nie te doen nie, is egter meer gevaarlik.” (Sabina Wurmbrand)

Saam in Sy diens,

Donnelly McCleland