23 Maart 2018
Turkse troepe en hul Siriese rebelle-bondgenote het Sondag 18 Maart die dorp Afrin in die noordweste van Sirië binnegeval. Hulle het hul vlae in die middestad gehys en het volle beheer verklaar ná ‘n veldtog van agt weke om Koerdiese “YPG-magte” uit die gebied te verdryf. Die stryd om Afrin, ‘n eens stabiele area in die noordwestelike deel van Sirië, het ‘n nuwe front in Sirië se veelsydige burgeroorlog geopen en die steeds groterwordende rol van buitelandse magte, soos Turkye, in die sewe jaar oue konflik beklemtoon. Ankara sê die Siries-Koerdiese YPG-vegters is ‘n uitbreiding van ‘n militante groep wat ‘n opstand in Turkye voer en het beloof om wat hulle as ‘n “terreurkorridor” (YPG-beheerde gebied langs die suidelike grens van Sirië met Turkye) beskryf, te vernietig. Meer as 200 000 mense het die afgelope dae uit Afrin gevlug, terwyl Turkye met sy veldtog voortgegaan het ondanks die VN-Veiligheidsraad se oproep om ‘n 30 dae skietstilstand in Sirië. Ankara het gesê die oproep was nie op Afrin van toepassing nie, maar die veldtog het in die Weste kritiek uitgelok.
Turkye vrees ook dat die Koerde ‘n selfregerende sone in Sirië sal vestig wat sy eie Koerdiese minderheid kan inspireer om ook meer onafhanklikheid te eis. Die Koerde is die grootste staatlose etniese groep in die Midde-Ooste, met sowat 30 miljoen inwoners in ‘n gebied wat tussen Iran, Irak, Turkye en Sirië verdeel word. Duisende Koerde het oor die afgelope jare tot bekering gekom, veral as gevolg van die konflik in Sirië en Irak.
Bid asseblief saam met ons vir die Koerde wat die oposisie beveg op talle fronte.
“Hierna het ek ‘n groot menigte gesien wat niemand kon tel nie. Hulle was van elke nasie, stam, volk en taal en het voor die troon en voor die Lam gestaan. Hulle het wit klere aangehad, en daar was palmtakke in hulle hande.” (Openbaring 7:9 – 1983 Vertaling)
Saam in Sy diens
Donnelly McCleland