19 Oktober 2018

Ek wou net graag baie dankie sê aan die  gemeente  vir hulle bydraes vir die Kinderkerk se 3de kwartaal projek: Badisa se gemeenskapmoeders. (Hulle, die moeders, kyk na kinders onder 6-jaar terwyl die kinders se ouers gaan werk, hulle kan nie ander versorging vir hulle kinders deur die dag bekostig nie.)

Ek het Maandag al die pakkies by Badisa gaan aflewer, toe ek by die deur kom is daar ‘n dogtertjie wat alleen by die deur staan en sy is maar 5 jaar oud. Terwyl ek vir Rochelle, die sekretaresse, gewag het, het die dogtertje ingeglip om na die kantoor te gaan waar haar ma met ‘n maatskaplike werker praat. Ek en Rochelle vra haar toe om ons te kom help om al die pakkies na die garage toe te dra, want dit is geskenk vir kindertjies net soos sy en sy is mooi groot en sterk en ons het haar hulp nodig. Sy was bietjie huiwerig om saam te kom, maar sy het op die ou end baie mooi gehelp om 2 sakke te dra. Ons het vir haar een van die oulike gebreide beertjies gegee en toe was sy meer tevrede om by die tafeltjie verder te speel terwyl sy vir haar mamma wag.

Ek wil net baie dankie sê vir almal se bydraes en ondersteuning van die Badisa gemeenskapmoeder projek in samewerking met die Kinderkerk.  My kar se bagasieruim was propvol. Baie dankie aan die Kinderkerk ouers vir hulle kinders se R5 bydraes, Ons oorhandig die fondse wat ingesamel is aan een van Badisa se personeellede deur die loop van die kwartaal. Mag ons as gemeente nog baie so saamwerk vir die behoeftiges in ons gemeenskap! Seënwense vir julle.

Lize Fölscher

Kinderkerk