6 Augustus 2020
In 1928 het eerw. Josua Joubert vanaf Mosambiek na Makhathini gekom en die evangelie aan groot getalle Zoeloes gebring. Die Nkonjane-sendingstasie is toe gevestig, maar moes in 1935 sluit agv malaria wat eerw. Joubert en sy opvolgers ernstig geaffekteer het. Hulle werk lewer egter ’n groot oes op en die kweekskoolstudente van die Universiteit Stellenbosch speel in 1971 ‘n beduidende rol met die stigting van ‘n NG Kerk in Afrika-gemeente (later die VGK Makhathini) in Makhathini.
Die gemeente bestaan tans uit sowat 700 lidmate en 220 Sondagskoolleerlinge met 23 bedieningspunte. Diegene wat tans daar werk, is di. Dalisu Kunene en Louwrens van der Westhuizen, kinderevangelis Themba Mahlangu, geestelike werkers Bonginkosi Mtembu, Lucky Kunene, Zacheus Ngwenya en Bheka Manzini, en Lungani Mandlakazi wat maatskaplike dienste lewer. Evangelisasie-veldtogte bedien die totale gemeenskap met die Woord en ook met kos en klere (volgens behoefte).
By Mapaya (naby Jozini) is ‘n groot, goed-toegeruste gemeentesentrum waar toerustingsprogramme aangebied word. Die gemeente fokus daarop om ‘n dissipelmakingkultuur te vestig.Die jongmense neem sterk leiding tydens evangelisasie-veldtogte en is ook ingeskakel met ’n uitreikaksie (Transformers) by skole.
Kinderbediening geniet hoë prioriteit in die bediening.Daar is tans vier kleuterskole onder gemeentelike beheer. Daar word voortdurend aandag gegee aan die opleiding van kleuterskool-personeel regoor die hele vlakte.
Sorgwerkers word opgelei om siek mense in hulle huise te versorg en sodoende ook die gemeenskap op te voed in basiese gesondheidsorg, trauma-berading, sterwensbegeleiding, ens. Weeskinders oor die hele Makhathini-gebied wat geen toelaes ontvang nie, word deurlopend geïdentifiseer en word deur die sorgwerkers bedien met kospakkies en klere.
Verskeie lewensvaardigheidsprogramme (bv. ABED (volwasse geletterdheidsklasse) word in samewerking met organisasies soos ACAT (Africa Cooperation Action Trust) aangebied.
Die gemeente beskik oor ‘n 10 hektaar Bloekomboom-plantasie naby KwaNgwanase. Die plantasie word elke ses jaar geoes.
Ondersteunende gemeentes, indiwidue en instansies kan, in noue samewerking met mekaar, daarop fokus om die bediening in die Makhathini-gemeente te versterk. Kom, word deel van hierdie besondere vennootskap.
Kontak Louwrens van der Westhuizen by weshuis7@gmail.com vir inligting.