16 Augustus 2018
MAKHATHINI
In 1928 het eerw. Josua Joubert vanaf Mosambiek na Makhathini gekom en die evangelie aan groot getalle Zoeloes gebring. Die Nkonjane-sendingstasie is toe gevestig, maar moes in 1935 sluit agv eerw. Joubert en sy opvolgers se swak gesondheid vanweë malaria. Hierdie werk lewer egter ’n groot oes op en die kweekskoolstudente van die Universiteit Stellenbosch speel in 1971 ‘n beduidende rol met die stigting van ‘n NG Kerk in Afrika-gemeente in die Makhathini (later die VGK Makhathini).
Die gemeente bestaan tans uit sowat 650 lidmate en 220 Sondagskoolleerlinge met 22 bedieningspunte. Diegene wat tans daar werk, is di. Dalisu Kunene en Louwrens van der Westhuizen, ev. Joseph Gumede, kinderevangelis Themba Mahlangu, geestelike werkers Bonginkosi Mtembu, Zacheus Ngwenya en Bheka Manzini, en Lungani Mandlakazi wat maatskaplike dienste lewer.
Mapaya Gemeentesentrum
Evangelisasie-veldtogte bedien die totale gemeenskap met die Woord en ook met kos en klere (volgens behoefte). By Mapaya (naby Jozini) is ‘n groot, goed-toegeruste gemeentesentrum waar toerustingsprogramme aangebied word.
Die jongmense neem sterk leiding tydens evangelisasie-veldtogte en is ook ingeskakel met ’n uitreikaksie (Transformers) by skole. Daar is ook vyf kleuterskole onder gemeentelike beheer. Ntombencane Mlambo is onder mentorskap van UCO (Universal College Outcomes) en koördineer die opleiding van kleuterskool-personeel regoor die hele vlakte.
’n Kerkie in Makhathini
Weeskinders oor die hele Makhathini-gebied wat geen toelaes ontvang nie, word deurlopend geïdentifiseer en bedien met kospakkies.
Sorgwerkers word as vrywilligers opgelei om siek mense in hulle huise te versorg en sodoende ook die gemeenskap op te voed in basiese gesondheidsorg, trauma-berading, sterwensbegeleiding, ens.
Verskeie lewensvaardigheidsprogramme (bv. ABED (volwasse geletterdheidsklasse) word in samewerking met organisasies soos ACAT (Africa Cooperation ActionTrust) en met behulp van materiaal van Scripture Union aangebied.
Ds. Van der Westhuizen, ev. Gumede en ds Kunene
Die gemeente beskik oor ‘n 10 hektaar bloekomboom-plantasie naby KwaNgwanase waar hulle in 2015 ‘n suksesvolle oes afgehaal het met ’n inkomste van R255 000. Hulle is tans besig om die bos te snoei en die brandpad rondom die bos skoon te maak. Hulle sien uit na die volgende oes oor 6 jaar, nl 2022.
Daar is ’n ideaal dat die drie gemeenskapstuine (onder kerklike toesig) in die toekoms sal dien as opleidingsentrums. Die uitdaging is om mense
te bemagtig met landboukundige vaardighede en om hulle lewenskwaliteit te verhoog met lae-koste voedselproduksie. Ondersteunende gemeentes, indiwidue en instansies kan, in noue samewerking met mekaar, daarop fokus om die bediening in die Makhathini-gemeente te versterk.
Kontak Kobus Odendaal by missio@kaapkerk.co.za vir inligting.
’n Opleidingsessie vir kinder- en jeugwerkers Die bloekomboomplantasie