20 Augustus 2021
Ek het nou al vir 21 jaar die voorreg om in die kerkkantoor te werk met die gemeente se finansies. Een ding wat ek in dié tyd geleer het is dat die Here voorsien. Soos met menige individue en besighede, het die kerk se finansies in die tyd sy hoogte- en laagtepunte gehad. Soms was die gemoed maar laag en die geloof ‘n bietjie min, maar elke keer het die Here my verkeerd bewys en kon ons as gemeente oorleef en voortgaan met sy werk.
‘n Sprekende voorbeeld hiervan is ook die gemeente se GELOOFBELOFTE-OFFER (GBO) fonds. Ek gee gou ‘n vinnige oorsig van wat GBO is vir die van julle wat nie die agtergrond ken nie.
Die Getuienis Aksie Kommissie het in 2002 besluit om dié fondse in die lewe te roep. Dit is geskoei op Jesus se opdrag aan ons in Hand 1:8 – “julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”
Verskeie organisasies is gekies om uit die fonds ondersteun te word, van Huis De Kuilen hier plaaslik tot sover as sendelinge in Indië.
Die konsep is aan die gemeente bekend gestel en lidmate het beloftes van finansiële steun gemaak. Alle fondse ontvang word aangewend ten bate van die betrokke instansies.
Elke jaar word die fonds weer geloods op Getuienissondag (gewoonlik die laaste Sondag van Februarie) en kry lidmate die geleentheid om hul beloftes te hernu en ander om nuwe beloftes te maak.
In die eerste jaar het ons gemiddeld R5 078 per maand ontvang. Dit het oor die jare gegroei tot R18 355 per maand in die laaste jaar.
Vanweë die inperkings met Covid het ons vanjaar gedurende Februarie geen eredienste in die kerkgebou gehad nie en was daar dus nie ‘n geleentheid om die GBO fonds weer te loods nie. Ten spyte daarvan het ons lidmate getrou aangehou om bydraes te gee vir die GBO fonds en kon die Getuienis Aksie Kommissie voortgaan om bydraes aan al die instansies te gee, sonder om enige bydrae te verminder.
Aan almal wat so getrou bydraes gee en sodoende deel is van die uitvoering van Hand 1:8 wil ons net BAIE DANKIE sê. Dit is wonderlik om te sien hoe die Here mense gebruik om sy werk hier op aarde te doen. Hou Die Akker dop, dan vertel ek oor die volgende 4 weke vir julle ‘n bietjie meer van al die instansies wat maandelikse bydraes ontvang.
Mariana
namens Getuienis Aksie Kommissie