3 Julie 2020

2020 – Wat ‘n jaar!!   Een wat as ANDERS onthou sal word.

Alles word vanjaar ANDERS gedoen. Ons werk van die huis af, moet self die kinders leer, dra maskers oral waar ons gaan, en ergste van alles, ons kan nie eredienste hou nie.

So het 6 Junie – die datum waarop De Eike basaar sou hou – ook gekom en gegaan sonder ‘n basaar. Dit is nou duidelik dat die datum van 25 Julie wat as moontlike alternatiewe datum gekies is, ook nie sal kan realiseer nie as gevolg van die huidige inperkingsmaatreëls.

Ons moet dus nou die werklikheid aanvaar – De Eike sal nie vanjaar kan basaar hou soos normaalweg nie.

Maar De Eike se mense gee nie sommer boedel oor nie en daar is besluit om ‘n ANDERSE basaar te hou. Die idee van ‘n ROAD HOUSE BASAAR het posgevat.

Jy vra dalk: ‘n WAT??

Dit gaan so werk.

Slegs sekere, maar baie gewilde, kositems gaan as wegneemetes beskikbaar wees. Jy plaas jou bestelling so gou as moontlik en betaal ook wanneer jy die bestelling plaas. Daar gaan ‘n maksimum aantal van elke item beskikbaar wees, dus moet jy jou bestelling so gou moontlik plaas en betaal om teleurstelling te voorkom.

Die eerste 40 lidmate wat vir R300 of meer bestel en betaal, sal ‘n gratis blik koffiebeker met De Eike se logo op ontvang as ‘n geskenk wanneer jy die bestelling afhaal.

Die dag van die basaar kom jy  vanaf 10:00 na die kerk, parkeer jou motor, gee die afskrif van die bestelling vir die kelner. Terwyl jy in jou motor wag gaan haal die kelner jou bestelling en bring dit na jou motor en jy ry weer weg. Ongelukkig sal ons nie lekker saam kan kuier nie – en De Eike lidmate is mos lief vir lekker kuier – maar ten minste gaan ons baie lekker eet sodra ons by die huis is.

Die kositems wat op die spyskaart sal wees, is die volgende:

  • pannekoek
  • worsjorsies
  • hamburgers
  • Boereworsrolle
  • boepensbroodjies (jaffels)
  • vetkoek, met of sonder vulsel
  • poeding, warm of koud

 

Soos met ‘n gewone basaar kan lidmate steeds ‘n kontantbydrae tot die basaar maak en / of bestanddele skenk. Produkte soos koek, brood, beskuit, plante, groente, vleis, wyn, naaldwerk ens. sal nie vanjaar by die basaar beskikbaar wees nie. Ons bakkers kan dalk vanjaar poeding maak in plaas van koek bak.

Nog ‘n groot verskil vanjaar is met die gee van jou bydrae(s). Die dienswerker gaan nie by jou aan huis kom vra vir ‘n bydrae nie. Ons wil graag almal (dienswerkers en lidmate) sover moontlik veilig hou. Ons doen dus ‘n beroep op al ons lidmate om self na vore te kom en jou bydrae vir die basaar te gee, hetsy dit ‘n kontantbydrae of bestanddele is. Ook die wat bereid is om poeding te maak of iewers te help.

Kontantbydraes kan by die kerkkantoor afgegee word (soggens tussen 8:00 en 12:00) of elektronies oorbetaal word na die kerk se bankrekening of deur middel van Snapscan. Die QR kode is op ons webwerf www.ngkeike.co.za beskikbaar.

Die bankbesonderhede vir elektroniese oorbetalings is soos volg:

ABSA BANK – takkode 632005

Rekeningnommer 3010590069

Verwysing:  naam (opsioneel) + BASAAR

Bestanddele kan so spoedig moontlik, maar nie later as 14 Augustus 2020, by die kerkkantoor afgelaai word soggens tussen 8:00 en 12:00. Sien die lysie van bestanddele wat ons nodig gaan hê aan die einde van hierdie skrywe.

Poedingbydraes – laat weet asb die kerkkantoor as jy bereid is om ‘n poeding te maak en lewer dit af by die kerk die oggend van die basaar voor tussen 7:00 en 9:00.

Die bestelvorm waarop jy jou bestelling kan plaas, is hier beskikbaar en ook op die webwerf, e-pos Bestelvorm en bewys van betaling na ngkeike@cybersmart.co.za.  Andersins kan jy die bestelling telefonies by die kerkkantoor plaas en ‘n reëling tref vir die betaling. Die laaste opsie is om na die kerkkantoor te gaan en jou bestelling daar te plaas en te betaal. Die sperdatum vir die plaas van bestellings is 4 Augustus 2020.

Let asb op na die verwysing wat jy moet gebruik wanneer jy jou bestelling betaal. Dit verskil van die verwysing vir donasies.

Op die bestelvorm sal jy sien die eerste paar items beskikbaar is koffiebekers en glase met warm sjokolade, cappuccino of melkskommel.

Die bekers en glase word spesiaal gemaak vir die basaar en sal versier wees met ‘n logo wat deur ‘n grafiese kunstenaar vir ons ontwerp gaan word om die geleentheid te onthou. Die bekers en glase gaan jou dus altyd herinner daaraan dat De Eike hom nie deur ‘n virus laat afskrik nie. Die warm sjokolade/cappuccino/melkskommel sal in die vorm van sakkies wees wat jy self by die huis kan aanmaak en geniet.

Ons doen ‘n beroep op ons lidmate om in te koop op hierdie ANDERSE manier van basaar hou. Gee asb nog steeds jou bydrae, skenk bestanddele, maak ‘n poeding en plaas jou bestelling so gou moontlik. Saam kan ons ‘n groot sukses maak van De Eike se ROAD HOUSE BASAAR. Dit bly immers steeds ‘n DANKBAARHEIDSFEES waar ons alle eer aan die Here wil gee vir sy onbeskryflike genade.

Amper vergeet ek die belangrikste ….   Die ROAD HOUSE BASAAR vind plaas op Saterdag 22 Augustus 2020 om 10:00.

Indien jy enige navrae of vrae of voorstelle het, bel gerus die kerkkantoor by 021 903 3818.

 

Bestanddele benodig:

Koekmeel                              Bruismeel                              Bakpoeier

Suiker                                    Kaneel                                   Eiers – ekstra groot

Kookolie                                Spray & Cook                       Margarien vir smeer

Jellie                                       Vla                                          Blikkies ingelegte vrugte

Langlewe melk                     Ideal Melk                              Kondensmelk

Kakao                                     Maalvleis                               Mayonaise