26 Junie 2020

Grendeltyd

My Grendeltydstorie begin 2 weke voor die begin van die inperking op Vrydag 27 Maart 2020. Op Vrydag 13 Maart – nee ek is nie bygelowig oor Vrydag die 13de nie – hoor ek by die dokter dat daar poliepe is wat so gou moontlik verwyder moet word. Woorde wat jou nekhare regop laat staan.

Vyfde dae later is ek dus in die teater om nog 5 dae later te hoor dat van die poliepe kwaadaardig is en dat hy so gou moontlik ‘n volle historektomie sal moet doen. Hy verseker my dat dié tipe kankerselle nie geneig is om te versprei nie, maar hoe gouer die operasie gedoen kan word, hoe beter. Weereens staan die nekhare regop.

Dieselfde dag kondig president Ramaphosa egter aan dat die inperking oor 4 dae ‘n aanvang neem, met die gevolg dat die dokter my laat weet dat hy op daardie stadium geen operasies mag doen nie. Hy kan nie sê wanneer dit sal kan gebeur nie.

So gaan ek dus saam met die res van die nasie in Grendeltyd in, werk van die huis af, mag nêrens heen gaan en niemand sien nie.

Die duiwel werk natuurlik oortyd en probeer my oortuig dat ek dalk die uitsondering is en dat die kanker wel besig is om te groei en te versprei. Die Here se stem is egter hard en duidelik en verseker  my uit sy Woord dat ek sy kind is, dat Hy my lief het en Hy sy hand oor my hou. 2 Tim 4:17 kom na my toe. “Maar die Here het my nie alleen gelos nie. Hy was by my en het my krag gegee. Ek is byna deur ‘n leeu opgevreet, maar is betyds gered.”

Na meer as ‘n maand kry die dokter toestemming om te mag opereer en is dit my beurt. Alles verloop goed en dokter is tevrede dat alle kwaadaardige selle verwyder is en geen verdere behandeling nodig sal wees nie. Ek is so dankbaar.

Terwyl ek in die hospitaal is, mag ek natuurlik geen besoekers ontvang nie. Ek het darem een besoeker  gehad en dit was George Loots wat ‘n paar keer by my kom inloer het. George, baie dankie vir die besoeke en vir jou bystand in dié tyd. Ek waardeer dit so baie.

Terug by die huis vorder die herstelproses goed en word ek oorval met oproepe en WhatsApp boodskappe van die leraars en lidmate. Baie dankie aan almal vir hul belangstelling en voorbidding. Dit het my gedra in daardie tyd.

Bowenal, baie dankie aan ons Hemelse Vader vir GENADE ONBESKRYFLIK GROOT.

Mariana van Schalkwyk