28 Mei 2020

Is God ooit lief vir my? Want daar gebeur so baie slegte goed met my.

Hierdie is een van die heel moeilikste vrae in die kerk, waarmee die kerk van die begin af besig bly. Wat moet ons as gelowiges sê van al die seer en lyding in ons wêreld? Beteken dit dat God nie meer lief is vir ons nie?

 

Wel, kom ons begin deur soos die skrywer van die brief aan die Hebreërs te sê: ons is almal reisigers langs die lewenspad. Destyds moes almal maar stap as hulle iewers wou gaan kuier, en later was hulle moeg en moedeloos, en hulle voete was seer. Maar as hulle eers die stad waarheen hulle op pad was, in die verte kon sien, het hulle sommer moed geskep en met nuwe ywer gestap. Net so raak ons ook soms moedeloos as dinge swaar gaan, maar ons weet waarheen ons op pad is! Die Here het immers gesê dat al die swaar van hierdie wêreld nie eers kan begin opweeg teen hoe lekker die hemel gaan wees nie – en dis wat God klaar vir jou gegee het. Dit wag vir jou!

 

Natuurlik is dit so, dat ons wêreld deurmekaar is en dat daar baie swaar is. Onthou, Jesus het dit self ook ervaar aan die kruis, en sonder dat Hy dit eens verdien het! Maar selfs in hierdie deurmekaar wêreld, het ons God se belofte dat Hy ons nooit alleen sal laat nie. Dis hoe ek weet hoe lief God my het – Hy is altyd by my! En as ek swaar kry, het hy simpatie met my en gee vir my die krag om daardeur te kom. Ek is nooit alleen nie! Daarom kan ek enigiets hanteer wat met my gebeur, want Hy help my.