9 April 2020

Goeie dag Ds.Hannes

Ek reageer op jou versoek Die Akker 3 April 2020.
Ek het verlede jaar besef dat ek op 80 jaar dalk Alzheimer kan kry en dan my hele lewe vergeet. Toe besluit ek om te begin notas maak sodat ek kan naslaan…….as ek van die notas kan onthou!

Ek kon my eerste voorouer, ex Osnabruck in Duitsland in 1765, en daaropvolgende voorvaders tot by my, se besonderhede opspoor. My oorlede pa se lewe het soos ‘n boek oopgevou  – sy kinderdae, skooldae, tersiëre opleiding en veral sy ondervinding gedurende die 1918 griep waar hy in die perdestal moes bly omdat sy familie bang was hy bring die “kiem” plaastoe.

My eie lewe het soos ‘n prentjieboek voor my begin oopvou en lank vergete gebeurtenisse het opgeduik uit die duister. Die een lei tot die volgende. ‘n Warboel van emosies, mislukkings, suksesse, komplimente, onregverdige behandeling, ….kan ‘n mens dan nooit vergeet nie ?  Skouer skuur met die dood en mense se opmerking “dit was nog nie jou tyd
nie”.

Een ding wat oorweldigend was is die besef dat my Skepper die heel tyd by my was. Ek besef dit nou eers. Niks is toevallig nie. Daar is werklik ‘n doel met alles. Ek is nou besig met die 1960’s en, omdat dit stadig gaan (een-vinger-spoed!) is daar nog ‘n lang pad voor en baie gebeurtenisse  wat vertel moet word.

Indien jy iets wil oorvertel is daar een probleem : Ek wil graag anoniem bly – So asseblief, u sal verstaan as ek sê ek is ‘n baie privaat persoon. Noem my “vriend” of enigiets  net nie my naam nie.Baie dankie. Seënwense.