20 November 2020

Ons ou kinderkerk kiddies het mos net die eerste kwartaal kinderkerk gehad.  En ek het tog gevoel dat ons op ‘n spesiale manier vir die graad 6’e moet totsiens sê.  Ons het nog elke jaar ‘n ophef van hulle gemaak, ‘n ou klein geskenkie oorhandig, en hulle bemoedig vir die volgende jaar, wat ook die laaste jaar van laerskool is.

 

Verlede Sondag het ek en Elizma Joubert, die graad ses kinderkerk klasleier, saam met die kinders gaan melkskommel drink by die Spur.  Elizma het vir elkeen ‘n lekkergoedpakkie opgemaak, en ek het gesorg vir ‘n ou piepklein hout engeltjie wat die kinders aan hul kersbome kan hang, asook ‘n “loveletter”, he he.

 

Ons het SO lekker gekuier, en ek kon ‘n lekker geselsie hê met die manne wat oorkant my gesit het.

Hulle was toe ook baie ontsteld om te hoor dat Elizma nie voortgaan met hulle in 2021, wanneer hulle aandkerk en –kategese het nie.  Die manne sê hulle hou baie van Tannie Elizma (23 jaar oud), want sy is vriendelik en “fun”.  Ons praat toe ook maar oor oor die rowwe tye wat sy aan die begin van kwartaal 1 gehad het, met sommige manne wat bietjie uit die hand uit was.  Ek het ook verduidelik watter groot opoffering Elizma maak om haar tyd af te staan op ‘n Sondag, asook die voorbereiding.  Sy is tans ‘n werkende jong dame, wat saans nog studeer ook as sy tuiskom.    En as ‘n mens dan op ‘n Sondag by die kerk kom, en sommige kinders is onbedagsaam en moeilik, dan breek dit ‘n mens se moed.  Ons doen mos hierdie werk vir die Here!

Die manne het toe onderneem om saam te werk vir wet en orde, as Tannie Elizma tog net wil voortgaan.  Iets moes sy reggedoen het in die eerste drie maande met hierdie reaksie, dink ek!

Elizma het dadelik ingestem, want sy wil juis nie volgende jaar voortgaan met kinderkerk nie, omdat sy soggens wil kerk bywoon saam met haar verloofde.

 

Daarmee ingedagte, sê ek sommer weer baie dankie vir elke liewe klasleier wat Sondag na Sondag op hulle pos is by die kinderkerk, en met soveel toewyding en liefde die kinders bedien.

 

NS  Onthou, ons kort nog een klasleier vir volgende jaar, vir graad 1 of 3.

Liefde-groete

Rietta Odendal