25 November 2022
Baie dankie en Totsiens!
Ná 26 jaar by De Eike, is dit vir my ‘n vreugde om vandag vir oulaas ‘n kersprogram te kan aanbied. Wat ‘n voorreg! Sonder ‘n klankman, ‘n powerpoint persoon en iemand wat die powerpoint opstel, kán so ‘n program nie suksesvol wees nie. Deur die jare was André Shaw en sy vrou, Thea, Karel, Adrian, Christie en deesdae Ruan en sy span, De Eike se tegniese boffins en het onskatbare werk gedoen met die klank en powerpoint. Neels Kruger het ‘n paar jaar gelede bygekom en lewer ‘n skitterende diens met die voorbereiding van die powerpoint. En Tim Burrows en sy voorgangers, oom Kerneels en Japie, wat stil-stil álles gereedmaak en sorg dat ons toerusting veilig bestuur word saam met ons werkspan, Joseph en Rina. Dan kom die beplanning, regmaak van die voorportaal en die kerkgebou – ek dink aan Marietjie Basson, Bonnie Beukes, maar bowenal Hester Carstens wat onvermoeid gewerk het om ons nuwe kerstoneel in die voorportaal te laat maak en Johan Norman wat vir ons ‘n pragtige kas gemaak het om die figure veilig te bewaar. Ds Hannes het ingeval en die figure vir ons uitgesny en Christa de Kock het die verfwerk gratis gedoen. Dan dink ek onmiddellik aan die versierder binne die kerk oor baie jare heen: Anna en Fritz van Wyk vir wie niks te veel was nie en elke jaar maar net weer gesorg het dat die kerk so min as moontlik betaal en dan is daar weer iets nuuts uitgedink om die kerk in ‘n feestoneel te omskep.
As ek aan my kerkkoor dink soos hulle deur die jare verwissel het, en in die besónder aan dié koorlede wat vir die volle 26 jaar getrou die Here met hul stemme gedien het, raak my hart vol dankbaarheid. Met De Eike se kerkkoor kan ‘n mens ‘n pad stap. Ons het na Graaff-Water getoer en by die Muisbosskerm geëet, aan Kerkkoorfeeste op Malmesbury, in Durbanville, Tamboerskloof, Monte Vista, Kuilsrivier en Kraaifontein deelgeneem, was deel van die pragtige “Kom laat ons Sing” in die Kaapse Stadsaal. Ons het Kersdienste gehou en in die kerk gesing! Ons is deur Groote Kerk toe—Carike het vir ons begelei op daardie pragtige orrel – en ons het die mooiste brief van waardering teruggekry. Daar was deur die jare ook ander knap begeleiers, maar vir die afgelope paar jaar doen Lizette Wilson dit getrou vir ons! Inus Basson het vir ons die pragtige koorbankies eiehandig gemaak en Koos Voigt en Marietjie Mostert het gesorg dat ek kassies kry vir wanneer ek dirigeer. Die koorlede was my mentors, het my gereeld voorgesê en ek het my verlustig in hul talente en al die beroepe wat hulle verteenwoordig. Elkeen het ‘n portefeulje: serpe en dasse, geldsake, kleremaak, video’s neem, lief en leed, admin, proeflees en met akteurs saamwerk, uitmerk van die kerkbanke vir die kerkkoorfeeste, solo’s en diskante ensovoorts — wat ‘n voorreg. En dié wat aftree, bly koorvriende! En, dan sorg die Here vir Engele op die pad, soos die Coach Fairy langs ons kerk, wat ons met ‘n luukse bus gratis vervoer het, die Hoërskool Brackenfell se bussies, die Hoërskool Eben Dönges se groot bus en Tinus wat gelukkig ‘n swaarvoertuiglisensie het! Desiree Rorke by die Tygerburger wat getrou ons beriggies geplaas het! Marian Steyl wat my orrelmentor was tot by ATCL!
En wanneer ‘n mens aan die sang dink, was daar deur die jare getroue Voorsangers wat maar Sondag vir Sondag en Pinkster ná Pinkster hul dienste aangebied het. Ek dink aan mense soos Dirk Bester en die erns waarmee hy die pinkstervoorsang vir ons uitgewerk het. Ook aan Hanneke Louw, wat ook al oorlede is, vir die manier waarop sy en Antonette van den Heever (Roberts) my gehelp het om die “nuwe” Liedboek vanaf 2001, lied vir lied, vir die gemeente aan te leer en al die plannetjies wat ons saam beraam het. Hoe trots is ek vandag wanneer ek hoor hoe “ken” De Eike ons liedboekliedere. Die inwyding van die Liedboek in 2001 was ‘n baie spesiale geleentheid—ek het by die kerkkantoor mense se name gekry wat in die jare gebore is toe bv die Nederlandse sangbundel, die Hallelujaboek, die Bybel ens. verskyn het. Een van die persone was ‘n boer uit die Bottelary en was dadelik gewillig om dit vir ons te doen. Hy het gasvry gevra wat moet hy saambring—”’n paar bottels wyn”?! Baie dankie aan ons huidige twee spanne en vir die heerlike gees waarin julle dit doen. Dankie ook aan Adri Burger wat die afgelope paar jaar voorvat by die Klaviergroepie! Jaco Burger is ook ‘n persoon wat stil-stil sy musiektalent en gawes vir baie jare ingeploeg het by die aanddienste, ook saam met ‘n getroue voorsanggroepie!
Daar was lieflike mans– en damesangers wat by ons opgetree het deur die jare: Marieta Oosthuizen en Marieta Loubser met haar kitaar (hoe trots was ek toe sy haar eerste CD laat verskyn). Christine Bam met haar wonderlike sangstem, wat, alhoewel sy by Kaap Opera gekontrakteer is, dit nie te nederig ag om ‘n gewone lied uit die Liedboek vir ons te kom sing nie. Sy het ook vir Marcelle Steinmetz met haar pragtige stem vir ons gebring! En Franci het haar neef, Reinhardt, gebring!
Die drie predikante (Di Morkel, Burger en Barnardo) en ons kerkkantoorpersoneel (voorheen Lizette Ras, Marieta Loubser en Cathy Fullard en vir baie jare Mariana wat my sake persoonlik hanteer en nou ook Elmarie) deur die jare my vriende geword en ons ‘n ontsettende goeie werksverhouding gehad het. Die Kerkraad, Voorsitters van die Eredienskommissie en die Leiers van die UK deur die jare het my altyd in ag geneem en was vir my nét goed. Ek kon my regtig uitleef by NG Kerk Kuilsrivier-De Eike en vir Sakkie Nel wat my aangestel het by De Eike, en my hierdie voorreg laat smaak het, sal ek seker nooit vergeet nie. Persone in hierdie groep wat altyd my agting sal hê, is die eredienswerkers – min mense besef watter groot werk hulle in die gemeente doen en hoé ernstig hulle die taak benader.
Netso het gemeentelede altyd onmiddellik ingewillig om te help wanneer ek vra: een van my kosbaarste kersuitvoerings was die aand toe Kosie Steenkamp sy “dinky toy”-karretjie uit sy sak haal wat hy by die kersboom gekry het toe hy ‘n baie klein seuntjie was! Die ander een toe van ons kinders in die buiteland videos met kersboodskappe gestuur het vir ons hier in Suid-Afrika.
Dit sal vreemd wees as ek vandag nie aan my instrumentaliste soos Esther Venter (Trompet) en haar twee talentvolle kinders (Tjello en Viool), Carike Steenkamp (Saksofoon), Lisa Loots en Elmi Rossouw (Dwarsfluit), Ida van Lill en Hester Fischer (Tjello’s) ook, dink nie. Esther het haar laaste MBA-eksamenvak geskryf toe sy járe gelede vir die eerste keer wit in die gesig, by De Eike kom oefen het. Carike was maar net altyd daar! Op die toneelfront vir baie jare, was daar Hanlie Burger en toe seën die Here ons ook met Petro van den Heever, Tronéll Lessing, Rudolph Maree, ds Hannes Burger, Pieter-Paul Robbertse en van my talentvolle kerkkoorlede! Petrus en Janine Theron en Nico Ras was áltyd net gereed en bereid om foto’s of video’s te neem, en moet asseblief nie vir hulle geld aanbied vir al daardie ure se werk nie! En Christa de Kock se grafika vir ons kersprogramme het maar net so stil-stil verskyn. Sy het ook óp Onrus ons kerstoneel in die voorportaal gratis vir ons geverf, jare nadat hulle weg is uit Kuilsrivier. Hester en Jannie Carstens het dit aangery en teruggebring! My geliefde man, Tinus, wat my tas vir die hele 26jr dra, nooit petrolgeld “verhaal” nie en maar geduldig elke keer nóg ’n inkkassie koop én my 3 dogters, Lisbé, Martlie en Corneli, my skoonseun, George, my kleindogter, Juané en kleinseun, Wikus, vir hulle ongelooflike ondersteuning en bystand nét wanneer ek hulle nodig gehad het. Al was hulle hoé besig, hulle het ingeval by ons en dan bring George nog vir Jannie Smit, sy troue vriend en skitterende bas, altyd saam!
By so ‘n terugblik dink ek met dankbaarheid en heimwee aan my ouers en wat hulle vir my beteken het en hoe onbeskaamd trots hulle op my en my sewe broers en susters was. Tot vandag toe vorm ons kinders ‘n hegte eenheid wat mekaar in alles ondersteun.
Aan die Koning van die Konings: Dankie Here vir hierdie absolute geleentheid en dat U elke tree van die pad bó my, ónder my, vóór my, ágter my en binne-in my was. Ek waardéér dit! Wát ‘n voorreg.
Mag die Vader mét De Eike wees en ons hele gemeente, wat my áltyd geborge laat voel het, se toekoms stewig in Sy Vaderhand hou.
René Ferreira
Orrelis 1996—2022