26 Februarie 2021
Die gogga wat ‘n jaar gelede begin amok maak het op ons aardbol en later sy familie {mutasies} het ‘n groot omwenteling gebring in ons doen en late.
Werkswyse, leefwyse, vervoer, ” you name it ” het heeltemal verander. Hier dink ek veral aan ons drie engele {boodskappers van God}.
Die manne het vir jare studeer voordat hul as predikante ge-orden word. Daarna het hul die preekstoel bestyg, die Woord van God verkondig, huisbesoek, hospitaalbesoek, ens, totdat die mat onder hul voete uitgeruk was. Hul mag nie enige besoek bring of op die Preekstoel klim nie. Nou preek hul voor ‘n kamera. Hoe onpersoonlik. En dan natuurlik sit hulle by die huis en die arme beterhelftes weet nie hoe om hul geliefdes te “entertain ” nie want die manne was mos meer uit as tuis.
Johan, Hannes, Chris praat ook soos die digter:
Waarvandaan sal my hulp kom, my hulp kom van die Here wat hemel en aarde geskep het.
Maar dan wil ek vir die drie manne plus natuurlik die pastorie moeders, die digter aanhaal: Hy laat my rus in groen weivelde, Hy bring my by waters waar daar vrede is en {baie belangrik} Hy gee my nuwe krag.
Ons, die lidmate van De Eike, moenie vergeet om vir die ses genoemde persone op te dra in ons gebede nie. Hulle het dit broodnodig. Hulle hande is afgekap, hulle is gefrustreerd. Wanneer ons as mense sukkel met die nuwe leefwyse dan moet ons in gedagte hou dat hulle nog meer sukkel.
Dankie
C J