11 September 2020

O, jou kleingelowige!

Ek moes vanoggend lag vir my eie onvolmaakte menslikheid. Ek het hierdie stukkie voorheen al raakgelees, maar iemand het dit vanoggend weer vir my aangestuur.

Het jy geweet?

  • Psalm 118 is die middelste hoofstuk in die Bybel.
  • Psalm 117, net voor Psalm 118, is die kortste hoofstuk in die Bybel.
  • Psalm 119, net na Psalm 118, is die langste hoofstuk in die Bybel.
  • As jy al die hoofstukke voor en al die hoofstukke na Psalm 118 (Psalm 118 uitgesluit) bymekaar tel, kry jy ‘n totaal van 1188.
  • Psalm 118 vers 8 is die middelste vers in die Bybel.
  • Behoort die middelste vers in die Bybel dan nie vir ons ‘n belangrike boodskap in te hou nie?

Ps.118:8  “Om by die Here te skuil, is beter as om op mense te vertrou.”

Dis nou hier waar die ratte in my wiskundige brein begin draai: as ek Psalm 118 ook saamtel, is daar 1189 hoofstukke in die Bybel.  594 + 594 +1 = 1189  Nou wonder ek: wat sê Ps. 118:9 dan?

Ps.118:8  “Om by die Here te skuil, is beter as om op mense te vertrou.”

Ps.118:9  “Om by die Here te skuil, is beter as om op hoë mense te vertrou.”

“O, jou kleingelowige!” sê ek vir myself.  Die Here moes geweet het party van Sy kinders luister nie altyd die eerste keer nie…