3 Oktober 2019

Ek dink almal het al gehoor wat aangaan met die droogte. Meeste mense is al moeg van droogte praatjies.Vandag wil ek iets uit my hart met julle deel.Ons bly in die kern van die droogte gebied. Die droogte hier by ons hou al 5 jaar aan.Meeste gesinne gebruik meer badwater in ‘n jaar as wat daar reën by ons geval het in die laaste 5 jaar. Die wêreld is dood. Diere vrek van honger en dors.Voëls trek. Die wêreld is grys en dor….maar dis okay. Ons is gelowig en vertrou op Hom en die lewe wat Hy sal bring. Ons bid vir reën. Heel tyd, altyd. Want dit moet net kom. Ons bid met dankbaarheid vir die hulp wat ons van buite kry vir ons boere. Voer wat lewe gee. Maar vanaand wil ek vir iets anders vra. En ek wil vra dat julle gebede die verandering ook saam vat.

Ek wil julle iets vertel van my mense.Ek kan net praat van ons dorp se mense maar ek glo op ander plekke waar dit net so droog is geld dieselfde.

Op die platteland en veral hier in die Karoo werk dit so. Elke mens in die dorp is afhanklik van boerdery. Die garage verkoop nie brandstof nie want ons mense ry nie. Die winkel verkoop nie kos nie want daar is eenvoudig net nie meer geld nie. Die bank en poskantoor dink daaraan om die deure toe te maak want die transaksies het drasties afgeneem. Die gemeenskap raak kleiner want die mense trek agter werk aan. Die slaghuis het so duur geraak want vleis wat vroeër plaaslik verkry is moet nou teen handelprys gekoop en vervoer word. Die skou kwyn weg want daar is eenvoudig nie diere van skou gehalte nie. Die blommeklub loop dood want wie kweek blomme in die droogte. Kerke kry swaar want glo dit of nie,droogte raak tot die kerk se finansies (kerke het ook finansiële verpligtinge). Misdaad neem toe want die mense moet leef en as hul nie kan werk vir ‘n lewe nie, hoe moet hulle leef? Tot die hotel kry swaar. Wie is in elk geval lus vir ‘n bier as jou diere vrek…. Maar dis nie die ergste nie.

Die swaarste is wat die droogte aan die mooiste mense op aarde doen. Hoe gaan dit? Dit het ‘n vraag geword wat in vrees gevra word. Ek ken ‘n oom wat altyd geantwoord het met “ek moet net keer of dit gaan beter”. Vandag is sy antwoord slegs “Soos dit gaan”. Mense slaap nie. Boere en dorpenaars. Mense lag nie. Danse en kuiers is uit. Ons mense is op. Hulle is klaar…. Om ‘n groot man met growwe hande te sien huil want hy koop sy dogter se troue se geld op aan voer breek mens. Om ‘n trotse boervrou te sien wat leeg voel want sy kan nie meel koop vir ‘n basaarkoek nie breek mens. Om elke dag na die lug te kyk net om van voor af te besef…. dis nog ? droë dag. Dit breek mens. Om ‘n omgee dorpsmens te sien wat nie meer weet hoe om te troos nie en dan net saam snik. Dit breek mens.

Die heel week al praat almal op die dorp oor die reën wat Sondag kom. En dit is voorspel. Maar dit was al voorheen ook so gewees en dan gebeur daar niks….

Vanaand wil ek julle vra. Bid, bid in geloof. Bid vir reën. Nie net vir die diere en vir die veld nie. Bid vir my mense, die boere, die mense van my dorp, my dorp. Bid vir elke Oom, Tannie, man, vrou en kind wat so opgewonde is oor môre se reën. Bid vir jou mense.

Jammer oor die lang dingetjie en ek hoop jy het dit klaar gelees. Deel dit as jy wil. Nie vir my nie. Vir my mense.

Vader is groot en Hy sal sorg.