31 Augustus 2017

In die kwarteeu wat ek by De Eike is, is dit een van die sake waaroor ons óór en óór kop gekrap het: wat gaan ons aan ons parkeerarea doen? Dit was ‘n enorme veiligheidsrisiko. ‘n Paar faktore het so gemaak: om mee te begin, is die hele plek destyds vol Wildevyebome beplant – pragtig en inheems, maar verwoestend vir enige teerblad! Ons moes hulle later (baie teësinnig) uithaal, maar teen daardie tyd was die blad klaar verwoes. Daarby het die dreinering van die area ons van die begin af kopseer gegee, want water wat onder ‘n teerblad insypel het baie dieselfde effek as die wortels van wildevyebome… En dan praat ek nie eers van Soneike se berugte reuse-duinemolle nie…

Nie dat ons nie ‘n wye verskeidenheid planne gemaak het nie! Ons het selfs op ‘n stadium die grootste deel van die oppervlakte vervang, maar dit het nie baie lank gehou nie. Allerhande interessante mengsels van beton en klippies ook nie. Telkens moes ons maar weer ons hart vashou, veral as ons mense in die aand die kerk besoek het. Deur die Here se genade het niemand darem in daardie tyd ernstig seergekry nie, alhoewel ons wel van ‘n hele paar valle gehoor het. Dit was ‘n tydbom, en ons moes duidelik betyds iets daaraan doen…

Met die verkoop van die Van Broekhuizenstraat-pastorie kon die gemeente uiteindelik ‘n blywende oplossing vir die probleem probeer vind. Ons Eiendomskommissie onder die bekwame leiding van André Marais het baie moontlikhede ondersoek en uiteindelik besluit om dit te laat plavei. Hoekom plavei? vra jy. Wel, dis goedkoper. En baie makliker as teerblaaie om te herstel, vir ingeval met daardie duinemolle in die omgewing…

Natuurlik gaan dit baie ongerief veroorsaak, en niemand van ons was eintlik lus daarvoor nie. Ons grootste parkeerarea is nou vir vyf weke nie beskikbaar nie. Ons gaan waarskynlik sukkel om parkeerplek te kry, want die stukkie aan Pionierstraat en op die gras by Langenhovenstraat is hopeloos ontoereikend. Maar glo my, dit gaan alles die moeite werd wees! Onthou net, as één lidmaat sy of haar heup gebreek het, sou dit vir ons almal baie sleg gewees het, en die gemeente baie geld gekos het. Ons het nie ‘n keuse nie. Daarom gaan ons die ongerief met blymoedigheid en humor – en baie geduld! – verdra.

Gaan kyk gerus na die foto’s oor hoe die projek vorder deur hier te kliek!