27 November 2020
Ek het ‘n paar weke gelede in my voorbereiding vir ‘n vergadering van die Fondse-kommissie beplan om vir die kommissielede te sê dat ek nie al die antwoorde het nie; hulle moet asseblief help dink aan oplossings. Terwyl ek na die vergadering toe ry, is ek egter tot ander insigte gebring.
Ons sê so maklik: “ek het geen idee nie” of “ek het nie meer raad nie” of “ek weet nie wat die antwoord is nie” wanneer ons skynbaar oorweldigende uitdagings in die gesig staar. Partykeer het ons darem al ‘n idee – ons het net nie AL die antwoorde nie, maar meestal is ons (heel menslik) geneig om maar baie raad-op te voel.
Die Psalms leer ons dat Israel ook net so gereeld as ons moedeloos gevoel het.
Ek wil graag die paar verse deel wat ek daardie oggend met die Fondse-kommissie gedeel het:
Ps. 3:6 “As ek gaan lê, slaap ek goed; ek word ook weer wakker, want die Here sorg vir my.”
Ps. 3:9 “Hulp kom net van die Here af. U laat dit goed gaan met die u volk.”
Ps. 4:6 “Julle moet die offers bring wat aan julle voorgeskryf is, en julle moet op die Here vertrou.”
Ps. 4:9 “Nou sal ek onbesorg gaan lê en dadelik aan die slaap raak, want, Here, U alleen laat my veilig woon.”
Ons hoef nie onrustig of moedeloos te voel nie – ons kan rustig slaap! – want ons het ‘n Vader, wat vir ons sorg. Ek hoef dus nie AL die antwoorde te hê vir die dag van môre nie, want ek het EEN Antwoord.
Ek sien daagliks getuienis van God se versorging oral rondom my – in my persoonlike lewe, en ook wat De Eike se finansies en werksaamhede betref. Gedurende 2020 (net soos elke vorige jaar) het die Here vir De Eike-gemeente sonder maat geseën. Waar ons finansies nodig gehad het, het die nodige fondse gerealiseer. Waar daar helpers nodig was, het God dit ook op helpers se harte gedruk om hulle hulp aan te bied. Ek is nie bekommerd oor die dag van môre nie, want ek het geen twyfel daaraan dat ons glo aan ‘n God wat almagtig is om te versorg en te voorsien nie.
Ek het één Antwoord. Dikwels is een van iets, heeltemal genoeg.