13 November 2020
Ons Kinderkerk is gestig in Augustus 2014, en is dus nou 6 jaar oud. Daardie jaar se graad 6’e was net 5 maande met ons, en moes toe oorbeweeg na die aanddiens in graad 7. Hulle is hierdie jaar in matriek, en het reeds belydenis van geloof afgelê.
Komende Sondag sê ons totsiens vir 2020 se graad 6’e, wat net vir 3 maande die seniors was by die Kinderkerk as gevolg van Covid 19 se inperking. Hulle het eers in 2015 by ons aangesluit as graad eentjies. Ons gaan ‘n lekker melkskommel drink by die Spur, en op ‘n informele manier totsiens sê.
Volgende jaar DV gaan 2014 se graad eentjies hoërskool toe, en kom daar weer ‘n lotjie oor na ons toe vanaf die kleuterkerk.
So loop die tyd, en was ek en die klasleiers besonder bevoorreg om die kinders met groot liefde te onderrig om in Jesus se voetspore te volg.
Ek sê dankie vir elke ouer wat hul kinders aan ons sorg toevertrou as sekondêre geestelike “onderwysers”, terwyl die primêre geestelike opvoedingstaak by hulle lê, soos wat hulle ook met hulle kinders se doop beloof het.
Daardie taak het hierdie jaar grotendeels by die ouers gelê, eintlik soos dit hoort, omdat ons nie kon eredienste aanbied nie. Ek kon darem baie oulike en prettige onderrigmateriaal aanstuur per sosiale media, wat ek weer by Heidekoppie Gemeente kon bekom. Materiaal wat baie vrugtevol deur gesinne gebruik kon word, en sommer met pret ingewerk in die proses.
Ek haal ook my hoed af vir elke klasleier wat deur die jare, Sondag na Sondag, volwasse eredienste misgeloop het om hul roeping uit te leef by die kinderkerk. Julle word intens waardeer.
Al is dit nog vroeg, wens ek langs hierdie weg sommer elke ouer en kind ‘n geseënde Kersfees toe, en hopelik ‘n meer normale 2021.
Liefde-groete
Riëtta Odendal