18 September 2020
Hallo liewe gemeente-vriende
Ek en Lize Fölscher is nog steeds doenig met die Durbanville kinderhuis satelliethuis, Huis LILI, alhoewel sy nie meer ‘n betaalde werknemer daar is nie. Ons funksioneer nou saam as vrywilligers. Lize doen tans die Alpha-kursus met die kinders, en lê dus gereeld besoek af daar. Die kinders is baie lief vir Lize, en maak steeds staat op haar raad en bystand.
Ons het vir elke kind, met die hulp van besighede, gedurende hulle onlangse skoolvakansie die geleentheid gegee om skaduwerk te doen in hulle belangstellingsrigting. Dit het vir die kinders ontsettend baie beteken, ook net om te sien daar is mense wat vir hulle genoeg omgee om hulle van hulp te wees, en aan hulle tyd te spandeer. Uiteraard het die kinders nie dieselfde ondersteuning wat ons kinders van ons as ouers het nie.
Al die kinders behalwe een is skoolgaande by Westcliff Vaardigheidskool, en hulle het tans aan en af vakansie, per groepe. Hulle woon skool by vir twee weke, en het dan weer vakansie vir twee weke. Die kinders wil vreeslik graag “casual” by besighede, en dit hoef nie noodwendig in hul belangstellingsveld te wees nie. Hulle hoef ook nie noodwendig betaal te word nie, en ek sal vir hulle vervoerkoste (publieke vervoer) bydrae uit my fondse wat ek ingesamel het.
Met dié dat ons gemeente ingestem het om as voog op te tree vir LILI huis, het ek die vrymoedigheid om te vra of daar enige gemeentelid is wat dalk tans of oor twee weke ekstra hande nodig het, en in die proses ook die kinders kan toerus vir die toekoms. Ek herinner weer dat LILI ‘n akroniem is vir Leap Into Life Independently. In die proses leer hulle om meer onafhanklik te funksioneer. Tannie Manita, wat hulle huidige Kinderversorger is, gaan hulle help met publieke vervoer. Sy weet hoe dit werk en loop ook ‘n ekstra myl met die kinders.
Ek deel sommer ‘n brokkie hoe die kinders ook vir mekaar omgee : Een van die dogters is hoofmeisie by Westcliff, en ‘n regte klein rabbedoe en avonturier (sy het SA kleure in rotsklim, en is ‘n klein bondeltjie spiere). Sy is bereid om saam met die kinders wat nog nie gekonfyt is met publieke vervoer nie, te reis na hul “werk” bestemmings, totdat hulle genoeg selfvertroue daarmee het. Is dit nou nie mooi nie? Die meisiekind het ‘n pragtige hart, en is ‘n sterk leier. Geen wonder dat sy hoofmeisie geword het nie.
Ek hoor graag van De Eike se wonderlike omgeemense.
Liefde-groete
Riëtta Odendaal