17 Februarie 2023
Hallo julle
Hoor nou eers hierdie mooi storie.
Vanoggend op my en Elzeth se staptog loop ons hierdie Angolese vrou (al sedert 2005 in SA) raak wat heeltemal verdwaal is. Sy soek Patrysstraat 43, waar sy gaan opleiding kry. Verdere info het sy nie.
Dis vreeslik moeilik om die pad te verduidelik, want dis vol draaie en swaaie, maar ons stap daar verby, so ons nooi haar toe om saam te stap.
En sy sê ons is twee engele op haar pad. Vinnig kom ons sommer op die Jesus onderwerp. Heelpad gesels ons, en ons glo SY is ‘n engel. Sy en die ander versorgers wat deur Tygerberg Hospice opgelei word, versorg en begelei sterwende mense, so dit is ‘n ongelooflike roeping. Sy is ‘n wonderlike kind van die Here. Ek glo in elk geval nie ‘n mens kan so ‘n spesiale werk sonder die Here doen nie. Sy sê ook haar graad 10 dogter is in Eben Donges in Kraaifontein, en sy het in graad 8 ‘n Bybel gekry van die Gideons.
Net daar besluit ek sy moet ‘n Bybel kry, en sy sê toe hoeka hare is al voos gelees. Natuurlik het ek nie Bybels op my staptog nie, wel in my motor, so ek beloof om later ‘n draai by haar te maak by Patrysstraat 37. Ek sit toe later vanoggend die stuk in na die hospice opleidingsentrum, en vat sommer ‘n klomp Bybeltjies saam (Afrikaans, Engels en Xhosa), want ek weet nie presies wat om daar te verwag nie. Toe sien ek vir die eerste keer die naambord Tygerberg Hospice by daai kerkie in Patrysstraat. En die adres is Patrysstraat 43.
Wraggies! Hulle gee weekliks opleiding aan die wonderlike vrouens. En daardie vrouens lei dikwels hulle pasiënte na Jesus toe, wat help dat hulle soveel vrede kan hê met hulle kondisie. Daar was net drietjies vanoggend, almal kinders van die Here, en vreeslik opgewonde oor die Bybels. Ek het hulle ook die weg na saligheid gewys agter in die Gideons Bybel wat hulle met pasiënte kan gebruik. Ook die voorste gedeelte waar Bybelverse gekoppel kan word aan ons emosies.
Die bestuurder sê die meisies werk “all over”, ook in Karel Bremer hospitaal, seker by die kanker afdeling. Sy gaan my nou weekliks laat weet hoeveel studente daar is, en dan sal ek Bybels neem. Sy wil hê ek moet ook vir hulle ‘n kort praatjie gee, wat ons Gideons vrouens mos altyd doen. Sy is SO opgewonde.
Wat ‘n wonderlike plek om te ontdek! En dit deur Veronica vir wie ons die pad moes wys. En nou kan sy met haar Bybeltjie die regte pad vir haar sterwende pasiënte wys. En honderde ander versorgers kan weer vir hulle pasiënte die regte pad wys na die hemelstad.
NS Ek ken die gebou. Dit was of is volgens my wete ‘n kerk. ‘n Vriendin van my het ook al ‘n bewaarskool (Patrysies) daar gehad. Maar nou word dit bedryf deur die Tygerbergse hospice, ook vir opleiding en bemagtiging van versorgers (100de van hulle).
Liefde
Riëtta Odendal