17 Januarie 2020
Dit was vir ons ‘n voorreg om 4 jaar te kon deel wees van De Eike se Kinderkerk. Alhoewel dit baie toewyding verg om elke Sondag op jou pos te wees, is daar baie seëninge hieraan verbonde. Een van die grootste seëninge was om die Kinderkerk saam met ons eie kinders te kon beleef. Ons kon deel in hulle ervaringswêreld en sien hoe hulle geloof groei en ontwikkel. Daar het dikwels gesprekke voortgevloei na ‘n Kinderkerk-Sondag en ons kon so verstaan waar hulle op hul geloofsreis is. Die ander seëninge was om ‘n nou band te kon vorm met die kinders van die Kinderkerk. Ons het nie net deel geword van hulle geloofsreis nie, maar hulle ook op ‘n persoonlike vlak leer ken – ons kon deel in die goeie, maar ook die minder goeie gebeure in hul lewens. Ons wens Riëtta, Lize en die res van die span voorspoed toe vir 2020 se Kinderkerk en bid dat die Here hulle almal sal seën in dit wat hulle dié jaar by die Kinderkerk gaan aanpak.
Liefdegroete
Riaan en Joelene Conradie