14 September 2023
INLEIDING
Matteus 28:19 Beveel en roep ons aan om na al die nasies te gaan en hulle dissipels te maak van Jesus Christus. Dit is ‘n opdrag wat Jesus aan Sy dissipels gegee het net voor Sy hemelvaart. Daardie opdrag is steedss geldig en ons as dissipels van Jesus Christus moet daaraan gehoorsaam wees. Die De Eike gemeente is op ‘n hele paar terreine besig om uitvoering aan hierdie opdrag te gee op direkte en indirekte wyse. Dink maar aan waarheen die Geloofbelofte Offers gekanaliseer word. Dink ook aan wat met alle kos wat ingesamel word, gebeur asook die klere wat vele lidmate beskikbaar maak en wat op gekontroleerde manier aan behoeftige gevalle geskenk word.
De Eike is by plekke soos Greenpark, Indië, Stikland en Nuwerus betrokke.
ORGANISME – ALLES WAT LEWE, MENS DIER EN ORGANISASIE
Alles wat lewe kan as ‘n organisme beskryf word. ‘n Organisme is iets wat lewe en waar daar insette, ‘n verwerkingsproses en uitsette is. Daardie drie bestandele moet altyd teenwoordig wees om te kan lewe en die drie bestandele moet in harmonie wees om gesond te kan lewe. Enige organisasie kan as organisme gedefinieer word met insette, ‘n proses en uitsette. So ook met alles wat lewe. Ons as komplekse mense is ook aan hierdie wetmatighede onderworpe. Ons ontvang byvoorbeeld ook geestelike en fisiese voedsel as insette wat verwerk word en dan manifesteer in uitsette soos om te kan werk as gevolg van fisiese insette en om hoër kognitiewe dinge te kan doen as uitsette – soos om ons Skepper te kan dien, ons kreatiwiteit en sakevernuf toe te pas.
‘n Kerk is ook ‘n organisme wat insette ontvang, prosesse verwerk en wat uitsette moet lewer. Organismes wat slegs insette wil ontvang en nie uitsette wil lewer nie gaan dood, fisiek en geestelik. ‘n Mens wat net wil inasem en nie meer die asem wil verwerk nie en nie meer wil uitblaas nie gaan dood as gevolg van versmoring. ‘n Kerk wat net wil kollekteer en nie die insette van sy lidmate wil verwerk en kanaliseer om uitvoering aan sy sendingopdrag te gee nie skep ‘n wanbalans en sal dood gaan want die uitset wat gekoppel is aan die doelstelling word nie na gejaag nie. Daar is geen deurvloei van energie en middele nie.
Om dus betrokke te wees en te sorg, gee aan De Eike ‘n doelwit wat ons koppel aan gesonde uitsette met ewigheidswaarde. Ons betrokkenheid by Nuwerus is dus so ‘n doelwit wat 100% in-lyn is met die sendingopdrag van Matteus 28:19 en dit is ook 100% in-lyn met God se wil.
AANLOOP TOT DIE UITREIK VAN 2023
Hierdie Uitreik was die eerste een nadat die Covid-19 proses in werking gekom het in Maart 2020. Die eerste uitreik het 2017 plaasgevind.
Die eerste beplanningsbyeenkoms het alreeds in April vanjaar by die Gresses se huis in Kuilsrivier gebeur. Feitlik almal wat belang gestel het om die Uitreik mee te doen was die aand teenwoordig.
Tydens ‘n opvolg vergadering was ‘n leier aangewys naamlik Sanet Koen maar agter elke goeie vrou is ‘n ewe goeie man – Sias. Saam het hulle volle aandag aan die projek bestee en alles met groot beplanning en deeglikheid aangepak terwyl Sanet die heeltyd in voeling met Isobel en haar suster, Amanda op Nuwerus gebly het.
Sanet en Sias het alles tot in die fynste besonderhede beplan en gereël en selfs skenkings ontvang om die span in staat te stel om lekker te kon eet die naweek teen minimale koste. Ook kon die span aan die kinders en bejaardes pakkies met vrugte en eetgoed uitdeel tydens ons besoek vanuit die skenkings. Sanet, Amanda en Isobel het selfs vooraf sop gekook om die span te voed.
VRYDAGAAND – AANKOMS OP NUWERUS
Die span het almal veilig op Nuwerus aangeland. Sommige het ‘n donasie gemaak om van die vele spoedkameras op die roete van die Kaap af te help finansier. Die omvang van die donasie sal ons weldra uitvind en ook wie almal betrokke sal wees.
Ons het die aand gesellig by die Gresses aan huis vergader waar ons heerlik gekuier het terwyl ons oor sop en brood gekuier het. Later, met begeleiding van Marieta, Louis en Petrus het ons ‘n paar liedere gesing en geoefen vir die volgende dag se konsert-optrede by die Rand se kinders.
GEBEURE VAN SATERDAG
Konsert
Saterdagoggend het ons almal by die Rand, die woongebied by Nuwerus waar die VGK gemeente se lidmate woon, bymekaar gekom in hulle kerksaal. Ons luidsprekerstelsel was opgestel deur Tim, ons Koster en ons regiseur, Sias, het almal betrek om deel te wees van ‘n toneelstuk met Klara en Rageltjie in die hoofrolle. Die toneelstuk het op eenvoudige wyse in kleur die hele proses verduidelik van hoe ons vanuit ons sondige situasie kan wegbreek en ons harte kan suiwer wanneer ons die besluit neem om die keuse te maak vir Jesus.
Ons span was hartlik verwelkom deur die hoof ouderling, Johnny Cloete en daarna het die Rand se kinders vir ons gesing.
Ons toneelstuk het daarna aan die beurt gekom. Terwyl die dialoog tussen Rageltjie en Klara plaasgevind het, het ons ander met kleur (Gekleurde lappe) en toneelspel verduidelik hoe die proses verloop om ons hart vir Jesus te gee.
- Swart – My hart was vuil met sonde
- Wit – Maar Hy het my vergewe
- Rooi – Gereinig deur Sy bloed
- Groen – Ek groei nou in die Here
- Geel – Op goue strate wandel
- Blou – Ek sal die hemel sien
Om die kinders iets tasbaars en sigbaars te gee om die kern van die boodskap van die toneelstuk te onthou, het Petrus met sy 3-D drukker vir elke kind ‘n nekhangertjie met die woord “Jesus” in wit uitgedruk. Janine het pakkies opgemaak met ‘n mooi ragfyn toutjie met gekleurde krale wat elke faset van die proses uitbeeld. Die hangertjie is met die krale in die toutjie ingeryg om ‘n mooi hangertjie te vorm. Elke kind moes sy eie hangertjie inryg en saamstel met die krale, toutjie en hangertjie wat elkeen in hul sakkie ontvang het. Hulle was baie trots op hulle hangertjies.
Na die toneelstuk het die kinders weer vir ons span gesing maar ons spanlede, oud en jonk het saam met die kinders op die verhogie geklim en saam met hulle gesing en gedans. Die kinders kon nie hulle oë glo toe ons almal saam met hulle sing en dans en hande klap nie. Hierdie klomp lewendige gryskoppe van die Kaap af wat saam met die jongspan sing en dans. Ons kon sien dit het blywende indrukke gemaak.
Aandag aan die senior burgers
Na hierdie konsert verrigtinge het ons uit beweeg na ‘n aangrensende saal waar vrugtepakkies aan die seniors uitgedeel was. Die 50 pakkies vrugte was geskenk deur ‘n vriend van Sias en Sanet wat nie ‘n De Eike lidmaat is nie. Die Heilige Gees in aksie in mense se harte…
Drs Handré en Anneke Lategan het ‘n tydelike spreekkamer in ‘n aangrensende vertrek gehad en daar was by hulle spreekkamer ‘n lang ry mense wat hulle gratis kon konsulteer. In ‘n kort tydjie het die egpaar 32 pasiënte gesien en behandel waar nodig. Die mediese egpaar het ook onder die indruk gekom van die groot behoefte aan mediese sorg wat op Nuwerus bestaan. Die naaste mediese sorg wat hulle kan kry kom vanaf Bitterfontein met ‘n klinieksuster wat eenmaal per week besoek aflê op Nuwerus.
Saterdagniddag
Saterdagmiddag na middagete by die Gresse woning het ons in ‘n konvooi vertrek veld toe waar ons gaan blomme kyk het. Dit was egter baie meer as net blomme wat ons gesien het. Pieter en Franci was in hulle element toe ons onderdeur die N7 in hulle gronde aan die Oostekant van die N7 beweeg het. Ons het ‘n stuk grond betree waar nie baie mense kom nie.
Franci het vir ons verduidelik dat sommige vetplant spesies net op een of enkele plekke voorkom en dat dit bewaar moet word. Ongelukkig is vetplante baie gewild op die plaaslike mark sowel as oorsee en daar is mense wat ter wille van geldelike gewin graag hulle hande daarop sal wil lê. Ongelukkig sal sulke “stropers” nie selektief te werk gaan nie maar alles voor die voet verwoes en uithaal. Dit is goed om te weet daar is mense soos die Bassons en Gresses wat omgee en wat wil bewaar.
Die fyn broosheid maar tog gehardheid van sommige vetplant spesies waarvan baie piepklein is, het opgeval. Met al die mens se wonderlike tegnologie en intelligensie kan ons nie sulke plantjies skep nie, vandaar die noodsaaklikheid om dit wat die Skepper aan ons toevertrou het te bewaar en korrek te bestuur.
Pieter het op ‘n hoë punt stil gehou en ons vertel van hoe die rotse van die omliggende randjies gevorm het en hoe die plat vallei wat ons ver vorentoe kon sien, sy ontstaan gehad het en dat hulle met verskeie metodes en tegnieke die ouderdom van rotslae kan bepaal. Wanneer mens dit hoor en waarneem kry mens ‘n idee van die eindeloosheid van ons Skepper. Dit is dan wat die woorde van 2 Petrus 3:8 sin maak naamlik – “Een ding moet julle egter nie vergeet nie, geliefdes: Vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag”. Psalm 90:4 verduidelik dit effens anders met: “Vir U is duisend jaar soos gister wat verbygaan, soos ‘n nagwaak wat gou verby is!” Om dus Pieter se verduideliking te verstaan van die daterings wat gedoen was op rotse en formasies van miljoene jare se ouderdom van die aarde se samestelling moet mens die twee teksgedeeltes ook in die konteks inbring om enigsins te probeer verstaan.
Ons kan egter volstaan by dit wat ons lees in Johannes 1: 1-3 dat die Woord (Jesus Christus) aan die begin reeds bestaan het en dat alles deur Hom (Die Woord – Jesus Christus) ontstaan het en Pieter het Saterdag weer net gehelp – daar in die veld by die kliprante met die gevormde vallei voor ons – om ons as span in verwondering hieroor te plaas oor ons Skepper se skepping met die grootsheid daarvan en die menslike tydloosheid daarvan.
Saterdagaand
Die aand het die span weer by die Gresses vergader waar ‘n vleisie en wors op die kole gegooi was. Olivier Boerewors wat ook ons basaar se boerewors verskaf het, het aan die uitreikspan ‘n groot afslag op die wors gegee en ‘n annonieme donateur het dit betaal. Alhoewel die span vir die vark rashers betaal het, het die verskaffer, Canivore Quality Meat nog twee pakke addisioneel geskenk om te verseker dat daar genoeg is vir elke spanlid. Weer eens, die Heilige Gees in aksie in mense se harte wat hulle harte en beursies oopgemaak het.
Die spanlede wat mekaar die vorige dag nog nie so lekker geken het nie het nou al goed kennis gemaak en ons kon lekker saam kuier. Sommige knus en warm in die huis en ander buite onder die lapa se dak voor die vuur.
Van die spanlede was nou al so eie met mekaar dat hulle selfs begin het om poetse op mekaar te bak soos om rys in beddens te gooi wat aanleiding sou gee tot vergeldingstappe die volgende dag.
Petrus en Janine het ‘n paar spanlede bymekaar gekry om die aand af te sluit om ‘n foto buite in die donker te neem. Petrus en Janine weet hoe om met lig te skryf met ‘n vertraagde kamera sluiter wat oop gestel is. Ons het die woord: “Lyfie” geskryf na aanleiding van een van die liedjies wat die Rand se VGK-kinders spesiaal vir ons gesing het. ‘n Effense verdagte mannetjie wat onder sensuur geplaas was, het die Lyfie-woord afgerond.
SONDAG SE GEBEURE
Die span het voor kerk bymekaar gekom en ‘n lied of twee geoefen in die kerk met sy baie mooi akoestiek. Die plaaslike leraar, Ds Karlien was weg en moes die diens behartig op Kliprand, sowat 100km Noord-Oos van Nuwerus waar een van die buitewyke ook kerkdienste op ‘n Sondag hou. Met mooi vooraf beplanning het Franci, Isobel en Amanda ‘n program vir die diens saamgestel. Die program het Woord en Lied ingesluit en die VGK-gemeente se lede van die Rand het by ons aangesluit nadat hulle kerk om 10:00 verdaag het.
Die Rand het hulle gemengde koor sowel as hulle mannekoor daar gehad saam met heelwat gemeentelede en kinders. Die kinders het almal hulle “Jesus” nekhangertjies aan gehad tydens die besoek.
Die vorige ouderling wat ons tydens ‘n vorige uitreik goed leer ken het, Elna, het gesorg vir ‘n hartlike verwelkoming en sy het ook opgetree as ‘n soort van seremoniemeester om alle verrigtinge baie geordend aan te kondig. Elna se liefde vir die Here was ook baie duidelik met haar hele aanslag en manier van dinge doen.
Die program wat gevolg was in breë trekke:
- Verwelkoming en afkondigings
- Voorsang (Hallelujas 159 & 234)
- Openingsgebed en kort vertelling oor die Nuwerus van amper 60 jaar gelede – Maartin
- Almal – Ek roem U naam
- Die doel van die Uitreik verduidelik – Louis Hurter
- Die Halleluja – Solonommer Marieta Oliver
- VGK Mannekoor
- VGK Gemengde Koor
- De Eike met kitaar begeleiding van Louis, Petrus en Marieta
- Boodskap deur Ouderling Buks Pretorius uit Openbaring 10: 9-11
- Afsluiting Gebed deur VGK Leier Ouderling – Johnny Cloete
- Afrikalied
- Seëngroet – deur Buks Pretorius
Tydens die De Eike sangnommer word die Oorwinningslied as een van twee liedere gesing. Terwyl De Eike sing staan die VGK se Mannekoor en ander gemengde koorlede soos een man op en kom staan tussen De Eike en begin spontaan saam sing. Die wat wil hande omhoog lig – doen so en die gemeentelede wat ook VGK lidmate insluit, sing lustig mee en klap hande. Almal is dit eens. Iets het gebeur. Mens kan dit noem wat jy wil. Die Heilige Gees woon in elkeen wat Hom aangeneem het want aan elkeen het Hy die reg gegee om ‘n kind van God genoem te word. Alhoewel ons dit weet, was dit op daardie oomblik of die Heilige Gees se teenwoordigheid so sterk en voelbaar was. Daar was absolute samesyn, liefde, deernis en meelewing tussen tradisionele NG-lidmate en VGK-lidmate. Dit was asof die Heilige Gees vir ons kom sê het in die woorde van die lied wat ons uit die Liedboek sing – Lied 159: “God is hier teenwoordig...”. Anders gestel, die Heilige Gees het vir ons Sy kragtige werking kom wys. Hoe anders staan die koor-afvaardiging van die VGK sommer spontaan op en sluit by De Eike aan? Hoe anders verklaar mens dat die VGK die vrymoedigheid had om besoek af te lê by die NG Kerk in die dorp. En dit nadat tydens ons eerste uitreik in 2017 aan Ds Chris Barnardo gesê is dat die VGK nooit in ons tyd besoek sal aflê by die kerk in die dorp nie. Toe het Ds Chris al die wens uitgespreek dat die gemeente op die Rand tuis moet kan voel by die kerk in die dorp.
Tydens die vorige dag se konsert het meer kinders opgedaag as waarvoor beplan was en daar was ongelukkig nie genoeg pakkies met lekkers, sokkies en ‘n mussie nie. Die kinders wat toe Sondag by die dorpskerk aangesluit het was minder en hulle kon elkeen ‘n pakkie ontvang. Die kinders was baie bly oor hulle pakkies en een dogtertjie het haar sokkies mooi opgevou en teen haar vasgedruk asof dit ‘n kleinnood is. Wanneer mens sulke gebare sien dan weet mens, daar is ‘n verskil gemaak deur te volg in Jesus se voetspore.
Ander skenkings wat in privaatheid oorhandig sou word sluit sanitêre ware in vir die tiener meisies. Heelwat klere, skoene en komberse sal ook mettertyd onder beheerde omstandighede deur Amanda uitgedeel word, daar waar nood is
Wat die span Sondag beleef het, was ‘n wonderwerk in eie reg. Die span het in ‘n groot sirkel gestaan en nabetragtig hou na die verrigtinge Sondag by die Gresses se huis. De Eike se Uitreikspan het ‘n stukkie van die hemel ervaar Sondagoggend. Hoe anders sal ons ons Skepper kan loof en prys in die hemelse paradys? Beslis nie met ‘n bekommerde of vies gesig en ‘n toe mond nie. Ook sal ons saam met ons in die hemelse koor mense van alle nasies en nasionaliteite wat Christus as Verlosser aangeneem het is broers en susters sien. Wat ons dus Sondag ervaar het is ‘n stukke van daardie saamwees, saamsing, saam voel, saam onder die geklank van die Woord gekom het uit Openbaring 10 … ons en die VGK mense.
Kan die VGK lidmate sing! Hoendervleis oomblikke. Dan dra die kerk gebou se akoestiek natuurlik ook pragtig by tot ‘n hemelse ervaring.
WAT STAAN UIT EN WAARVAN HET ONS BEWUS GEWORD?
- Soos baie plekke in Suid-Afrika is werkloosheid ook maar ‘n probleem wat tot allerlei probleme aanleiding gee. Daar is dikwels kosnood in huise. Klere is dikwels ook ‘n probleem. De Eike is alreeds betrokke in hierdie opsig by Nuwerus. Klere word dikwels na Nuwerus gekanaliseer van ons gemeentelede se skenkings.
- Kos word ook van tyd-tot-tyd aan Nuwerus geoormerk en besorg. Ons weet egter nie altyd of dit wat geskenk word, genoeg is vir die nood nie.
- Ons het bewus geword van die geweldige groot en belangrike rol wat Amanda op Nuwerus speel. Sy is ‘n ware steunpilaar in die gemeenskap. Dikwels klop die mense van die Rand by haar aan as kosnood dreig of as iemand iets soos skoene nodig het. Daar is heelwat kinders wat ook moeilike huislike omstandighede beleef. Met Amanda se agtergrond speel sy dan sommer ma, maatskaplike werkster en onderwyseres. Amanda is eintlik die hande en die voete van Jesus op Nuwerus.
- Amanda is egter ook net ‘n mens wat haar eie huishouding ook aan die gang moet hou met versorging en dies meer en vir haar om dan nog die hande en voete-rol van Jesus in die gemeenskap ook te speel het sy baie ondersteuning nodig. Tot dusver het De Eike baie van die ondersteuning aan Amanda gebied maar eintlik was meeste mense nie bewus daarvan hoeveel dit van Amanda vra om Nuwerus se mense so te kan ondersteun waar daar nood is nie. Hierdie verslag onderstreep dus hierdie punt sodat ons as gemeente bewus kan wees daarvan dat ons in ons gebed ook spesifiek vir Amanda kan bid sodat sy kan volhou om daardie Ewigheidswerk te doen wat sy in die gemeenskap doen.
- Daar was ook heelwat mense in rystoele opgemerk Saterdagoggend. Daar was al ‘n hele paar rystoele aan hulp behoewendes in die verlede aan mense in die Rand geskenk waarvoor De Eike gemeente “bread tags” versamel het vir die Breadtags for Wheelchairs inisiatief. Indien daar alreeds genoeg rystoele is in die Nuwerus gemeenskap kan De Eike dalk steeds weer die Breadtags for Wheelchairs inisiatief laat herleef om ander gebiede waar moontlik soortgelyke nood is, se nood te help verlig. Ons is op die oomblik maar net bewus van Nuwerus maar Nuwerus het ook “bure” en buitewyke op Bitterfontein en Kliprand en ander plekke soos Rietpoort. Daar is ook buurdorpies soos Koekenaap wat bereik kan word met die geur wat De Eike op die manier kan versprei. Miskien sal dit nodig wees om in die verband die gesprek oop te maak met Ds Karlien om by haar te hoor wat die spesifieke behoeftes is, aangesien sy in die distrik uit beweeg en eerstehands bewus behoort te wees van die nood en behoefte op sommige plekke.
- Alhoewel De Eike nie tans iets daaraan kan doen nie word dit tog in die verslag opgeneem dat die Rand se VGK gemeente nie ‘n leraar het nie. Leiding word tans deur twee ouderlinge behartig – beide is SAPD-lede.
- Die dorp se inwonertal het oor die jare heen gedaal en vir die buitewyke om altyd op ‘n Sondag in te ry kerk toe is nie haalbaar nie, veral as plekke soos Kliprand wat 100km ver is in ag geneem word. In ‘n sekere sin word die kerk onderbenut. Dit sou dus sin maak as die mooi kerkgebou in die dorp meer intensief benut kon word as die VGK gemeente ook meer daarvan gebruik kon maak en dienste daar bywoon. Miskien was die afgelope naweek se diens met die amperse heilige byeenkoms wat ons beleef het die begin van iets nuuts in die Nuwerus gemeenskap.
TEN SLOTTE
Om doelwitte soos hierbo beskryf is na te streef gee aan De Eike ‘n vooropgestelde doelwit en uitset om te lewer in terme van die prosesmodel van die Organisme soos beskryf aan die begin van hierdie verslag. As De Eike dus weet wat die uitset of doelwit is wat bereik moet word, byvoorbeeld om ‘n rystoel aan iemand te verskaf of om kniekomberse vir bejaarde dames te verskaf of skoolskoene vir ‘n behoeftige kind, dan kan mense wat daarvan te hore kom in ons gemeente met doelgerigtheid optree om die behoeftes te bevredig.
Om ‘n doelwit en bekende uitsette te hê kan energie skep in ‘n gemeente wat gemeentelede saamsnoer as hulle saamwerk om ander se nood te verlig terwyl hulle in Jesus se voetspore volg en Sy hande en voete op aarde is.
Ten opsigte van doelwitte is dit ook ‘n vreugde om te kan sê dat lidmate in De Eike oor tyd heen fluks gebrei en gehekel het aan musse, serpe en sokkies. ‘n Paar wonderwerke het ook in die proses plaasgevind. Daar was byvoorbeeld op ‘n stdium ‘n tekort van sowat 40 mussies. ‘n Gemeentelid het sonder om te weet 40 gebrei maar sy het nog nie ‘n doel of projek gehad daarvoor nie. Nodeloos om te sê die 40 mussies wat tekort was, is met hierdie lidmaat se onafhanklike bydrae opgevul. Mens kan dit nie verklaar nie anders as om te weet dat dit die Heilige Gees in aksie in mense se harte is nie.
GROOT DANK AAN:
- De Eike gemeente wat ons uitgestuur het.
- Die Bestuurspan, koördineerders en regisseur van die toneelgroep (Sias, Sanet, Amanda, Isobel, Franci).
- Die fotograaf en kreatiewe span wat gesorg het vir fyn detail soos die maak van hangertjies in die vorm van ‘n kruis met die woord: “Jesus” binne-in. (Petrus en Janine).
- Ons Koster, Tim, wat ook in die agtergrond voetwerk gedoen het met die klankstelsel en altyd bereid was om oop-en-toe te sluit en op te ruim tydens alle vooraf vergaderings en oefeninge.
- Die Hande-en-Voetespan op Nuwerus wat ook hulle huis oopgestel het om spanlede te huisves (Otto en Amanda Basson).
- Die Hande en Voetespan in Kuilsrivier wat ook hulle huis op Nuwerus oopgestel het om almal te akkommodeer vir etes – insluitende die groot opruim agterna met ryskorrels in sommige kamers en al … (Pieter en Isobel Gresse).
- Die koördineerder wat De Eike en Nuwerus se wisselwerking help bymekaar bring het met baie werk wat stilweg in die agtergrond gedoen was. Ons dink aan die naweekprogram se opstelling, beplanning, die uitdeel van take, opvolg en skakeling met Nuwerus-mense. (Franci Gresse)
- Die musiekspan wat ook bygedra het tot ‘n besondere gees van meelewing (Petrus, Louis en Marieta)
- Die Nuwerus gemeente met Ds Karlien wat ons met ope arms verwelkom het, so ook die VGK gemeente op die Rand met Ouderling Johnny Cloete as sameroeper.
- Almal wat vervoer verskaf het.
- Almal wat skenkings gemaak het, afslag gegee het en wie se harte en beursies oop gemaak was.
- Almal wat gebak, gebrou, gebrei en gehekel, beplan en gewoeker het.
- Ons Hemelse Vader vir Sy seën en vrede wat ons op so ‘n manier kon ervaar om te sien hoe groepe mense mekaar vind met die Heilge Gees aanvoelbaar in aksie.