23 Oktober 2020
Hierdie naweek gaan ons vir die eerste keer weer saam in die kerkgebou nagmaal vier. Maar natuurlik kan dit nie sommer net “soos altyd” gebeur nie! Om mee te begin, kan ons nie die eredienswerkers met bordjies omstuur nie – die tekens gaan daarom by die deure beskikbaar wees, en jy moet tog onthou om joune te neem met die ingaanslag en by jou te hou tot met die instellingswoorde.
In die tweede plek lyk die tekens ook glad nie soos jy gewoond is nie. Dis is indiwidueel verpak en verseël – ons moes dit spesiaal so aankoop. Bo-op die houertjie met die “wyn” is ‘n dekseltjie wat jy aftrek om by die brood uit te kom. ‘n tweede dekseltjie word afgetrek vir die “wyn”. Teen die tyd wonder jy natuurlik hoekom al die aanhalingstekens. Wel, jy kan natuurlik nie regte brood so verseël en verpak nie – dit herinner meer aan die Ouwel wat die Roomse kerk bedien as die brood waarmee jy grootgeword het. En die wyn gaan bepaald ook nie enige van ons Bottelary-boere opgewonde maak nie. Dis maar net ‘n baie klein bietjie sappies. En wil dus voorspel dat jy ons “normale” nagmaal gaan mis, maar dan moet jy onthou, dis vreemde tye dié… Buitendien gaan dit tog nie oor die brood of die wyn per se nie – dié kan jy mos maar by die huis gaan geniet.
My gebed is dat hierdie “vreemde nagmaal” juis vir ons aan die sakrament nuwe betekenis gaan gee, en dat die Here jou gaan seën met ‘n besondere ervaring van sy teenwoordigheid en sy krag Sondagoggend!
Ten slotte: Baie dankie aan Mariana wat baie moeite gedoen het om vir ons die tekens te bestel en gereed te kry!