9 Julie 2020
Goeiemore
Die 23ste Junie, 4 jaar gelede is ons seun Renè tydens ‘n spieshengeluitstappie in Arniston deur ‘n haai aangeval waartydens hy ernstige beserings aan sy hand en been opgedoen het. Ons is so dankbaar teenoor ons skoonseun alex wat dadelik reëlings getref het vir ‘n helikopter om hom in Struisbaai te gaan haal en na Cape Gate Hospitaal te bring waar ‘n span dokters hom ingewag en ‘n vier uur-lange operasie op hom uitgevoer het.
Gedurende die lang herstelperiode het hy een dag na die berg agter sy huis in Bettiesbaai gestaar en gewonder of hy ooit so sal herstel om weer die kruin te kan bereik soos die vorige keer wat hy die pragtige Disa “raakgeklim” het. Hy het na ‘n jaar of wat weer die waters van Arniston aangedurf en groot visse geskiet maar die been was nog nie sterk genoeg vir die klim nie.
Paasnaweek, gedurende die grendeltydperk toe almal in hulle huise ingeperk was, het hy dit toe aangedurf en ‘n houtkruis op die kruin geplant om sy dankbaarheid teenoor die Here te toon dat hy nie net gespaar is nie, maar ook so kon herstel dat hy dit kon doen.
Groete
Kobus en Magdeld Nel
(Ons is saam met julle dankbaar, Kobus en Magdeld!)