19 Junie 2020

Ds Hannes, Ds Chris, Ds Johan

Na aanleiding van u versoek dat lidmate wat hierdie nuusbrief [12 Junie] lees ASB ook `n stukkie sal skryf oor hoe hy/sy die grendeltyd ervaar.

Ek glo ook dat die e-nuus-kommunikasie `n ideale geleentheid is om nie net `n eensydige gesprek te wees nie – wat ons huisgesin [van twee] aanbetref – was die inperktyd saam met ons aftrede

`n wonderlike geleentheid om agter te kom hoeveel ons drie wonderlike en liefdevolle leraars, die kerk se personeel en die kerkraadslede vir – die lidmate beteken.

En ons moet eerlik wees – dit is `n yslike klomp werk! Dan weet ons twee nie waar u altyd die tyd en die lus het om ons in ons heel intiemste lief en leed by te staan nie.

Dan het ek ook nog die nuusbrief en byvoegsels uitgedruk om vir Miemie, wat drie keer op `n dag met kos en die skottelgoed, asook telefoon-oproepe tussen haar die kinders en die kennisse en enkele kere met breiwerk besig was, `n geleentheid te gee om dit te lees – dit doen sy gewoonlik in haar bed vanaf 23:00 – terwyl ek al die “harde-hout-balke saag”.

Nou moet ek sê vir di? wat dit nie weet nie, die uitdrukke is in `n tweering-binder-omslag en ek sal binnekort `n nuwe omslag moet neem, want ek gaan dit beslis hou!

Ons lees persoonlik van die items twee of meer kere, want dit is vir ons baie interessant en ek vertel gewoonlik vir van my kinders en bure daarvan.

Dit was vir my `n bekommernis en `n saak van gebed dat daar lidmate is wat dit dalkies nie te lese het nie, vanweë die feit dat hulle nie `n rekenaar het nie of nie rekenaarvaardig is nie.

Ons twee kry uit die inligtingstukke heelwat items om voor voorbidding te doen.

Dikwels speel ons “Chinees Checkers” en kyk na opgeneemde programme op die TV terwyl ons `n teetjie of koffietjie geniet.

U is elkeen vir ons kosbaar!!!

Vriendelike groete

Johan en Miemie Loubser  [072 673 3456]

En nog een:

Hannes

Soos Callie woon ek ook in Othello Aftree Oord maar met die voordeel dat ek in ‘n huis woon en dus meer bietjie meer vryheid van beweging het.

Ek probeer elke dag om in die oord te gaan stap. Nogals interesant. Die wonings se inwoners se smaak verskil soos dag en nag met die tuine. Die een het net plaveisel, die ander Avbob se gras, en dan natuurlik van klompie plante tot basies, toe gegroei soos ‘n woud wat ‘n lieflike speelplek  is vir kleinkinders. Daar is ook grasperke, maar ongelukkig verskil ook van huis tot huis.

Soos ek stap sien ek voordeure oop {veiligheidshek natuurlik toe} of vensters oop ens. Dan kry jy huise wat so toe is soos ‘n “Dinkey toy se exhaust”.

Mense hou hulself besig op verskillende maniere. Dirk met sy houtwerk {pragtige kas wat hy gemaak het}, ander krap in die tuin en dan natuurlik die stappers. Een stap asof hy betaal word, die ander uit op ‘n wandeling.

Ek besoek nie die woonstelle nie, kyk maar net na die plante groei. Die tuine voor die hoofgebou plus die sirkel, wat Tant Marie Kühn en haar span se handewerk is, is pragtig om te aanskou. Hannes jy kan gerus jou kamera saambring en fotos neem vir plasing in jou weeklikse skrywes. Dan kom jy sommer koffie drink by my en jy kan sommer die pastorie moeder saam bring.

Die mense wat hier woon is dierbare siele en ouderdomme wissel van laat sestigs tot in die neentigs. Almal jong mense wat nie toelaat dat omstandighede hulle onderkry.

Groetnis

Charles