31 Januarie 2025
Liewe De Eike-familielid,
Wat sê ‘n mens aan die begin van ‘n nuwe jaar, wat voel asof dit al maande lank aan die gang is? (Of voel dit net vir my so?) Erger nog: wat sê ‘n mens oor die kerk se finansies?
Of ons dit nou wil weet of nie, ons finansies is die hartklop van ons gemeente-aktiwiteite. Sonder ‘n gesonde hartklop, kan ons nie ons roeping as gemeente behoorlik uitleef nie.
Ons gemeente se finansies lê darem nog nie in die kritieke sorgeenheid in die hospitaal nie, maar kom ons sê maar daar is ‘n chroniese siekte-toestand wat behandel moet word.
Die kerkraad (op aanbeveling van die Fondse-kommissie) was die afgelope paar maande verplig om ‘n paar moeilike besluite te neem. Een daarvan, was om ds Johan vanaf 1 Maart 2025 te beroep. Die besluit hou vir ons heelwat voordele in, maar die uitvloeisel daarvan is dat ds Chris nou gedurende Januarie en Februarie alleen-leraar van die gemeente is.
47 jaar se Kaapse winters het ons ook verplig om die besluit te neem om noodsaaklike instandhoudingswerk aan ons kerkkompleks te doen, (spesifiek waterdigting en die herstel van waterskade) ten einde strukturele skade aan die gebou te voorkom. As gevolg daarvan is ons reserwefondse so-te-sê uitgeput.
Die geheim van ‘n gemeente se gesonde hartklop, is betrokke lidmate. Daarom die uitdaging: wees betrokke by die gemeente se aktiwiteite – daar waar die Heilige Gees jou oortuig dat Hy jou besondere gawes en talente wil inspan. Jou bydrae maak wel ‘n daadwerklike verskil.
Hou gerus hierdie spasie dop: oor 2 weke vertel ons julle van ‘n nuwe projek wat ons aanpak.
Elmarie Schwenke-Van Der Walt
Voorsitter: Fondse kommissie