26 Junie 2020
Die UK (Uitvoerende Kommissie) het oor ‘n hele paar sake gesels en besluite geneem, waarvan die vernaamste die volgende is:
- Die Gemeente se finansies: Covid-19 het nie net aan die staat se begroting groot veranderinge aangebring nie, maar het ook De Eike se begroting radikaal geraak. Ons Finansies-voorsitter begroot tans vir ‘n R440 000 tekort op hierdie jaar se begroting as gevolg van verminderde inkomste. Dit beteken nog nie dat ons paniekerig hoef te raak nie, aangesien die kommissie belowe om in volle vertroue in die Here en in groot verantwoordelikheid die gemeente se geldsake voort te bestuur. Dit beteken egter ook dat ons elkeen ons kant sal moet (bly) bring! Hieroor gaan Elmari ons meer vertel.
- Ons Kosterpos: Ons koster, wat na die besoek van ‘n span konsultante voortaan as die “Koördineerder-Fasiliteite” bekend staan, se kontrak verval in hierdie dae. Omdat dit nou moeilik is om dit op enige ander manier te doen, sal dit op ‘n maandelikse basis hernu word. Ons dank aan Tim vir die goeie werk wat hy lewer, ook om die Akker by jou uit te kry!
- Basaar 2020: Dis nou reeds duidelik dat ons dankofferfees / basaar nie op die nuwe datum van 25 Julie sal kan gebeur soos ons gehoop het nie, en dat ons ‘n ander plan sal moet bedink. Onthou jy die “roadhouse” wat altyd langs die pad gestaan het en waar jy kon afdraai vir iets te ete? Wel dis terug! Ons gaan ‘n “Roadhouse”-basaar hou! 7 Tafels met die gewildste kos is geïdentifiseer. Bestellings vir kos gaan vooraf gedoen word met vorms wat op verskillende maniere beskikbaar gaan wees, of per telefoon. Geen kontant word die dag hanteer nie. Jy gaan inry op die terrein, en in jou kar wag met jou vorm om gehelp het word. Siedaar, soos by ‘n Roadhouse! Volgende week sal ons die volledige plan uitspel. En o ja, die datum wat ons daarvoor geïdentifiseer het, is voorlopig 22 of 29 Augustus 2020. Ons bevestig die datum in die volgende uitgawe van Die Akker.
- Oopmaak van ons kerkantoor vir die publiek: Ons kerkkantoor is van 08:00-13:00 beskikbaar vir die publiek vir telefoniese navrae. As jy die kantoor persoonlik wil besoek, bel asb net vir ‘n afspraak, omdat ons steeds ons almal se veiligheid wil verseker (weereens met al die nodige protokol in plek).
- Beskikbaarheid van die dominees: ons leraars was die hele Grendeltyd telefonies beskikbaar, maar gaan nou ook op afspraak (weereens met al die nodige protokol in plek) beskikbaar wees by ‘n gesteriliseerde vertrek in die kerkkompleks. Skakel maar jou dominee as jy hom wil sien, hy sal met die kantoor ‘n tyd reël en dan kan julle mekaar daar ontmoet. Ja, ons weet dis effe onpersoonlik, maar dis die beste wat ons nou kan doen!
- Onderhoudswerk by die kerk: gaan nou weer volstoom voort. Vir diegene wat gevra het oor die tenk wat steeds op sy sy lê – ons aanvanklike plan was om dit aan die toilette te koppel om water te spaar, maar ons het agterna agtergekom jy mag nie eintlik dit doen nie. Nou gaan ons hom vir besproeiing gebruik. Hy gaan dus binnekort nie meer op sy sy lê nie!
- “Drop & Go”-projek: Die UK sê ook baie dankie vir almal wat so fluks meewerk met die organisering van hierdie projek, en almal wat oop hande het vir die mense wat swaar kry. Na verlede week se Akker was dit ook duidelik dat julle mooi gelees het waaraan daar nou ‘n besondere behoefte is, en ook spesifiek daarin voorsien het!
Die Uk bevestig die uitspraak wat ons kerk aan die begin van die pandemie gemaak het: “Die beste manier waarop ons mekaar nou kan liefhê, is om mekaar nie die Covid-19 virus te gee nie”. Ons bedank ons lidmate vir hulle samewerking en gehoorsaamheid in hierdie verband, en bid vir julle almal gesondheid toe in hierdie dae!