3 September 2021

Huis De Kuilen, ‘n program van Badisa, is ou bekende naam in die omgewing en hier word steeds gepoog, ten spyte van al die omwentelinge, om omgee versorging aan elke inwoner te bied.

 

Die Bestuur is dankbaar om te kan inlig dat die Tehuis tans geen Covid-19 positiewe gevalle het nie en ons besef dit is net Genade.  In dieselfde asem wil ons elke inwoner, personeellid, familielid en vriende bedank wat hulle samewerking gebied het en alle voorsorgmaatreëls gehoorsaam het in poging om die inwoners te beskerm.  Na deeglike oorweging is die deure wawyd oop gegooi vir die inwoners en hulle kan ter enige tyd die Tehuis verlaat, terwyl besoekers binne die bepaalde besoekure kan kom kuier.  Kom ons staan asb steeds saam in beste belang van elke inwoner en gehoorsaam die voorsorgmaatreëls, want ons besef nou dit is ‘n voorreg en nie meer ‘n gegewe nie.

In die grendeltyd is daar gewoeker binne die Tehuis en die grootste hoeveelheid inwoners is vrywillig inge-ent teen Covid-19, ons bedank die Departement Gesondheid vir hulle ondersteuning om die inwoners sommer in die Tehuis van diens te gewees het.  Die tuine se vaal sandkolle is met bas gevul en ons tuine lyk pragtig kleurvol en jy kan lente in die lug ruik.  Ons dames van die breigroep het ook nie met gevoude hande gesit nie en kon ons ten spyte van die deurmekaar uitreik in ons eie gemeenskap tydens Mandela dag ‘n verskil gemaak waar dit nodig was. Op daardie nood neem ons weer die vrymoedigheid om vir enige dubbeldraad wol skenkings te vra, daardie halwe bolletjies is altyd welkom.

 

September maand word in pers getooi, met wêreldwye Alzheimersdag wat op 21 September plaasvind ten einde bewusmaking te skep oor die siekte.  Sr. Dempsey, hoofverpleegkundige, koester ‘n groot droom van ‘n sintuie-bewuswordingskamer vir Huis De Kuilen se inwoners met dimensie.  Die kamer bied stimulasie vir die sintuie wat die inwoners rustiger maak op uitdagende dae.  Help ons asb om die droom vlerke te gee in die maand – ons benodig enige verskeie teksture lap, block out materiaal, vere-serpe, ‘n draagbare radio en kreukelpapier. As ‘n ongebruikte wiegstoel sy weg tot by ons kan vind sal dit die kersie op die koek wees.

 

Soos die meeste organisasies het Covid 19 ons gewone fondsinsamelingsprojekte ‘n vuishou geslaan en moet die span noodgedwonge uit die boks dink om die nodige fondse te genereer.  So is die eerste Lentemark op die voete gebring wat plaasvind op Saterdag 2 Oktober  – hou gerus ons Facebook blad dop vir meer inligting.

 

Ek sluit af met ‘n klein woordjie wat tog so baie beteken – DANKIE. Dankie vir elke omgee boodskap, gebed vir ons inwoners en skenking wat met liefde ontvang is.  Dankie dat ons weet u is deel van die netwerk wat help om die inwoners van Huis De Kuilen met omgee en liefde te versorg.