16 Augustus 2024

FOR THE LEAST OF THESE…

Matthew 25:31-46

Nuusbrief 3/24

 

Liewe Vriende,

Hartlike groete uit lieflike Suid-Afrika! Dis ‘n voorreg om weer met julle te gesels. Ons geniet die laaste bietjie van ons vakansie hier en alhoewel ons gereeld maar goed saam met die res van die land in die winterkoue gebibber het, het ons ook heerlike sonskyn dae gehad waartydens ons die pragtige natuurskoon van die Tuinroete kon bewonder. Wat ‘n pragtige deel van ons land!

 

Ons was geseënd om Priyanka vir ‘n rukkie by ons te hê terwyl die Academy vir hul vakansie gesluit was. Sy is tans weer volstoom besig met haar studies. Dis moeilik om te glo dat sy die 9de Augustus haar 21ste verjaardag gaan vier. Ons is dankbaar en trots!

 

Met ons terugkeer na Indië die 15de Augustus sal ons weer in verskillende rigtings gaan, Rahul na Varanasi en Lorette en Nadia na Ooty. Nog ‘n realiteit… ons jongste begin met haar laaste skooljaar en volgende jaar hierdie tyd is ons nessie leeg!

 

Die volgende fase van ons suiwel besigheid, “Fresh View Boutique Farm”, sal die aankoop van die koeie wees. Ons huur ‘n stuk grond waar ons reeds voer aangeplant het en nog dinge val stuk-stuk in plek, waarvoor ons baie dankbaar is. Ons visie vir die besigheid is om lede van die gemeenskap en kerke wat finansieël swaarkry te bemagtig. Hierdie kleinboere beskik dikwels nie oor die vaardighede en hulpbronne om suksesvol te wees nie. Verder wil ons hulle dissipel en vertrou ons dat hulle dan kan bydra tot die groter wordende finansiële behoeftes van die kerke in ‘n geslote land soos Indië. Ons is opgewonde oor hierdie geleentheid, maar het vanselfsprekend baie wysheid nodig vir elke stap vorentoe. Bid asb saam met ons vir duidelike leiding en die Here se seën op “Fresh View”.

 

Een van die dames op ons span is baie betrokke by die Sorgsentrum en ons is so dankbaar vir haar. Sy is ‘n opgeleide verpleegster met ‘n passie vir vroue- gesondheid en deel gereeld haar waardevolle kennis met die meisies en jong vroue. Sy doen ook Bybelstudie met ons oudste dogters en haar liefde en toewyding is ‘n groot seën!

 

Baie dankie vir julle getroue gebede, liefde en ondersteuning.

 

Ons is dankbaar vir julle!

Rahul, Lorette, Priyanka en Nadia.