24 November 2023

FOR THE LEAST OF THESE…
Matthew 25:31-46

Rahul and Lorette – Nuusbrief 3/2023

 

Liewe Vriende,

Ons vertrou dat dit goed met julle gaan. Vandag skryf ons vanuit drie dorpe in twee verskillende lande. Ons raak steeds gewoond aan die idee dat Priyanka nou in Suid-Afrika woon. Ons is baie trots op die brawe stap wat sy geneem het om ‘n werk te kry en haar voete daar te begin vind totdat haar studies volgende jaar begin. Alles is beslis nie maanskyn en rose nie en sy verlang maar erg huis toe, maar ons weet hierdie tyd is ‘n baie goeie leerskool in vele opsigte. Bid asb dat sy goeie keuses sal maak en veral dat sy die Here sal dien en hom bo alles sal liefhê.

 

Nadia en Lorette woon steeds in Ooty in die suide van Indië, waar Nadia nou haar A-levels in Hebron Skool begin het. Lorette onderrig steeds by dieselfde skool en is ook betrokke by verskeie aktiwiteite om die skool gemeenskap te dien. Die tweede kwartaal van die jaar is in volle swang en hulle is beide baie besig. Ons is baie dankbaar dat Rahul gedurende die onlangse kort vakansie by ons kon kom kuier. Hy het langer gebly as wat aanvanklik beplan was, omdat hy aandag moes gee aan ‘n voet besering wat hy voor sy koms hierheen in ‘n scooty ongeluk opgedoen het. Na ‘n MRI het dokters hier besluit om sy been in gips te sit met instruksies dat hy glad nie op die voet mag trap nie. Dit het hom gedwing om goed te rus en ons was bederf met ekstra tyd saam.

 

Terug in Varanasi moes Rahul weer inspring met al sy werksaamhede en ook gereedmaak om drie besoekers uit Amerika te ontvang. Ons bly dankbaar vir ons personeel wat ook help om te verseker dat die werk by The Turning Point en die stasiebediening voortgaan.

 

Dit bring ons by ons wonderlike, opwindende nuus… Ons het ‘n nuwe Sorgsentrum! Baie, baie dankie dat julle vir so lank getrou en volhardend saam met ons hiervoor gebid het. Die vertrekke en erf het heelwat werk benodig, en alles is nou bykans voltooid. Wat ‘n vreugde en seën is dit nie om weer daagliks met ons kinders byeen te kom nie! Ons vertrou dat hierdie bediening opnuut van krag tot krag sal gaan, sodat vele kinders se lewens op verskeie maniere aangeraak kan word in die jare vorentoe.

 

Julle ondersteuning, bemoediging en gebede is tot groot seën vir ons, nogmaals dankie!

 

Met liefde,

Rahul, Lorette, Priyanka en Nadia