12 Julie 2024

Liewe Vriende,

Dis ‘n voorreg om julle in die wonderlike naam van Jesus te groet! Ons vertrou dat dit goed met julle gaan en is dankbaar om hiermee weer ‘n bietjie terugvoer te gee van ons doen en late.

 

Dit is ‘n besige tyd vir almal van ons. Ons loof die Here vir sy krag en genade wat genoeg is vir elke dag. Ons student in Suid-Afrika werk hard en ons is so trots op haar! Ons is opgewonde om haar weer in Junie te sien, wanneer ons SA toe sal gaan gedurende die Hebron skoolvakansie. Nadia se eindeksamen is agter die rug, dis moeilik om te glo dat sy amper klaar is met “Year 12”, wat beteken dat sy hierna nog net ‘n jaar van skool oor het! Lorette hou steeds skool by Hebron en haar dae is gevul met voorbereiding, boeke merk, vergaderings en gelukkig ook die klastye, wat natuurlik die eintlike lekkerte is! Sy is ook betrokke by een van die skool se Christen-aktiwiteite, waar sy en twee kollegas die voorreg het om ‘n pad met ‘n baie spesiale groep “Year 7’s en 8’s” te stap. Bid asb vir ontvanklike harte terwyl die Heilige Gees werk gedurende hierdie byeenkomste.

 

Rahul is altyd aan die gang, hy balanseer nou sy dae tussen die werk by die Sorgsentrum, Wassery en Suiwel besigheid. Ons het ‘n jong man, Ashish, by die Sorgsentrum aangestel, en ook vir Arpan by die Wassery. Die hoop is om vir Arpan op te lei as bestuurder, ons benodig nou reeds ‘n geruime tyd ‘n betroubare, proffesionele bestuurder by “The Turning Point”. Ons gaan voort om die Here te vertrou vir ‘n groot werk in al ons personeellede se lewens.

 

Die groot afdak area vir die suiwel projek is voltooi. Ons beplan om die eerste koeie in Augustus aan te koop, wanneer die ergste hitte van die somer sal begin afneem. Dit sal net veiliger wees om hulle dan te vervoer en sal ook die aanpassing in hulle nuwe omgewing makliker maak. Een van die Gir ras se eienskappe is gelukkig hulle vermoë om hitte te hanteer. Intussen is daar meer as genoeg ander dinge wat nog in plek moet val en gedoen moet word. Ons sal jul voortgaande voorbidding vir al ons bedieninge baie waardeer!

 

Baie dankie dat julle ook vir ons as ‘n gesin bid. Ons bid veral vir ons dogters, dat hulle die Here sal dien, wyse besluite sal neem en Hom eerste stel in alles wat hulle doen.

 

Ons is so dankbaar vir julle!

Liefde en seën,

Rahul, Lorette, Priyanka en Nadia.