28 November 2024
Liewe Vriende,
Baie dankie dat julle tyd maak om ons briewe te lees. Ons is opreg dankbaar vir julle woorde van bemoediging, finansiële ondersteuning en gebede. Dit wat ons deur die Here se genade en voorsiening doen is ‘n getuienis van julle getroue betrokkenheid by die werk – baie dankie!
Kom ons begin met baie opwindende nuus: Ons het koeie! Ons het kalfies! Ons het melk! En laat ons nou maar eerlik wees… ons het ook heelwat meer grys hare! Rahul en Neels het vroeg in Oktober 4,200 km gereis om ons eerste 16 koeie aan te koop. Een het reeds ‘n kalfie gehad en nog twee is gebore voordat hulle terug in Varanasi was. Tans het ons 5 versies en 3 bulletjies. Ons het reeds 3 persone in diens geneem, maar moet nog 4 aanstel soos wat ons gereed maak om melk aan kliente te verskaf. Ons is amper daar, alhoewel ‘n paar belangrike dinge nog in plek moet val. Ons loof die Here vir sy beskerming tydens die koeie se vervoer na Varanasi en hulle aanpassing in hul nuwe omgewing. Vir ‘n bietjie ekstra opwinding is een van die kalfies op die vragmotor gedurende die reis gebore! Ons sal julle gebede vir “Fresh View Farm” baie waardeer, ons het nog so baie om te doen en te leer.
By “The Turning Point” verloop dinge op die oomblik glad en sonder enige groot krisisse. Ons bly dankbaar vir die Here se leiding en seën, terwyl ons doel altyd is dat hierdie besigheid Hom sal eer. Die grootste uitdaging bly maar om goeie leiers en mentors vir ons personeel te wees, terwyl ons seker maak dat hoë standaarde gevolg word.
Ons Sorgsentrum bied ‘n wonderlike geleentheid om Lig en Lewe in soveel kosbare lewens te spreek. Ons begeerte is om elke geleentheid te gebruik om ‘n verskil te maak. Ons vertrou die Heilige Gees om harte sag en ontvanklik te maak, sodat genesing en redding kan plaasvind!
Priyanka het baie hard gewerk om haar eerste jaar van BA Visual Communication te voltooi. Ons is baie trots op wat sy sover bereik het sedert sy Indië verlaat het. Ons mis haar so baie!
Nadia leef haar laaste jaar van skool voluit. Haar program is propvol met akademie, sport, drama, skooluitstappies, kampe, ens. Dit bly onwerklik dat ons jongste oor 8 maande die huis gaan verlaat!
Baie dankie vir julle getroue gebede en ondersteuning – ons is so geseënd!
Met liefde,
Rahul, Lorette, Priyanka en Nadia