16 November 2017

FEBA RADIO SA ONDERSTEUN FEBA PAKISTAN MET MEDIESE UITREIK

Op 20 Augustus vanjaar is ‘n 1-dag mediese uitreik in Gujranwala provinsie van Pakistan aangebied. Hierdie uitreik was daarop gemik om gesondheidbewustheid te kweek en gratis mediese sorg te bied aan die armes van die plaaslike gemeenskap en aan FEBA Pakistan se luisteraars in die omgewing. Saam met die Foster Science School en Way of Jesus Kingdom Youth Ministry in Gujranwala, het FEBA Pakistan se uitreik die plaaslike gemeenskap blywend opgehef. Plaaslike nie-regeringsorganisasies en ander gemeenskapsgroepe het saam met FEBA Pakistan gewerk om met sekere van die dag se aktiwiteite te help.

Mediese kundiges het hierdie uitreik gefasiliteer. Dr. Adnan, dr. Noreen (Senior Ginekoloog) en ‘n laboratorium tegnikus, Farhad, het gehelp met basiese mediese ondersoeke en bloedtoetse vir algemene infeksies soos hepatitis, diabetes en ander verwante kwessies.

Tesame met gemeenskapsontwikkeling was die doel van hierdie uitreik om plaaslike inwoners, in hierdie omgewing, van basiese gesondheidsorg, gesondheidsinligting en kliniese toetsing te voorsien. Baie verskillende onderwerpe was bespreek, soos; oorsake van infeksies en voorkomende sorg, hoe om water te suiwer, diabetiese sorg, behandeling van asma en algemene higiëne.

As gevolg van die armoede in hierdie omgewing, was dit vir meeste van hierdie mense, die eerste behoorlike mediese behandeling wat hulle van gekwalifiseerde gesondheidswerkers ontvang het. Daar is berig dat alle deelnemers, insluitend die plaaslike distriksadministrasie en FEBA se luisteraars, hierdie inisiatief van FEBA Pakistan baie waardeer het. Hulle is opgewonde oor hoe FEBA se radio-programme en sosiale media-boodskappe na geestelike en sosiale groei in die gemeenskap lei.

Ons waardeer elkeen van ons toegewyde ondersteuners, soos u, wat FEBA Radio Suid-Afrika in staat gestel het om hierdie projek deur FEBA Pakistan te finansier. Ons loof die Here vir hierdie ongelooflike geleentheid om ‘n verskil in baie mense se lewens te maak. Ons bid ook dat FEBA Pakistan se bediening sal voortgaan om baie onbereikte mense met die hoop van Jesus Christus te bereik.