31 Augustus 2018

Coen de Milander

Dankie vir die geleentheid om so teen die helfte van die looptyd van die Alpha kursus die getuienisse van die individuele lede van ons tafelgroep saam te vat om met die res van die gemeente te deel.

Jesus het met Sy hemelvaart gesê: Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. (Mattheus 28:19 [Afr1953].

Dit is juis hierdie woorde van Jesus “…en leer hulle…” wat by my opgekom het toe ek die bekendstelling van die kursus gesien het en ook die rede hoekom ek ingeskryf het.  Die aanbied van die kursus is bepaald gehoorsaamheid aan Jesus se groot opdrag en hopelik iets wat as ‘n voltydse bediening, ook met die aanbied van ander kursusse, in ons gemeente gestalte kan kry, sodat dissipels, anders as bloot lidmate, geleer kan word om alles te onderhou wat Jesus ons beveel het.

Daphne Jordaan

Wie is Jesus, hoekom het Hy gesterf? Hoe kry ek geloof en waarom en hoe bid ek en lees die Bybel?  Dis die vrae waaroor ons die afgelope week gesels het – baie dankbaar dat ons antwoorde op hierdie vrae gekry het.

En toe kom die hoogtepunt vir my tot dusver en dit is die gesprek oor die Heilige Gees – wat ‘n belewenis – wie Hy is, wat Hy doen en ook vervulling met die Gees. Met nuwe oorgawe aan die Here, het ek die Gees gevra om my te vul, sodat ek die gawes (geskenke) wat Hy my gegee het, kan uitleef in ‘n wêreld wat smag na liefde en omgee.

Hierdie liefde mag ek nie vir myself hou nie – dit moet uitgedeel word.

Ook het ek besef dat ons te min maak van die Heilige Gees – ons moet Hom die erkenning gee wat Hom toekom.

Baie dankie Heer dat U my lewe weer aangeraak en nuut gemaak het .  My verander het om tot U eer te lewe – ek loof en dank U daarvoor.

Hennie Rootman

Kursus is great!  Ek sien elke week daarna uit.  Saterdag was ‘n absolute hoogtepunt – ek dink die leraars moet meermale die geleentheid gee in die kerk vir mense wat vorentoe wil kom en vir die ds vra om vir jou te bid.

Pierre en Martie Swart

Die vriendelike en openhartige besprekings aan die Popeye-tafel is vir ons ‘n openbaring.  ‘n Familie-betrokkenheid en liefde wat uit die groep straal word ervaar.  Die gesprek-voering en deelname is soos manna uit die hemel.

Ons ervaar dat ons ons diepste geheimenisse met hulle kan deel.  Daar heers harmonie in ons groep en dit maak ons gelukkig.

Ons ervaar opnuut Jesus is die middelaar tot ons Skepper, Sy offer aan die kruis, die Gesalfde van God.  Jesus het die dood oorwin deur op die derde dag uit die graf op te staan, soos voorspel deur die profete dat Hy die tempel in drie dae sal opbou.  Jesus het vir ons gesterf, sodat ons kan lewe.

Ons tree in gesprek met God deur die gebed soos Jesus ons geleer het en bly in afwagting dat Hy sal voorsien soos Hy wil op die regte tyd.  Ons erken Sy gesag en ons afhanklikheid dat Hy reg sal laat geskied.  Ons kan vir ons geliefdes by die Vader voorspraak maak.

Die Bybel is die woord van God.  Hy spreek tot ons deur Sy woord.  Dit is ‘n lamp vir ons voet en ‘n lig op ons pad.  Dit is ons rigtingwyser om al meer soos Jesus te kan word.  Die Bybel is die wapenrusting om die Satan se pyle van verleiding af te weer, om die nou pad via Golgota na die hiernamaals te loop.

Die video-materiaal is ‘n volwaardige getuienis van God se kinders in die alledaagse roekelose wêreld.  Ons ervaar in ons groep se besprekings opnuut die middelaarsrol wat Jesus tot ons Skepper bewerkstellig deur vir ons in te tree.

Dankie vir familie-liefde wat ons ervaar in ons Popeye-groep.