8 November 2019
Liewe gebedsvriende
Op Saterdag 2 November het vreugdesvure in Suid-Afrika hoog gebrand ná die Rugby Wêreldbeker-oorwinning in Japan. “Ons kan enigiets bereik as ons saamwerk,” het Suid-Afrika se kaptein, Siya Kolisi, na afloop van die wedstryd gesê. Suid-Afrika se president, Cyril Ramaphosa, (wat Japan toe gevlieg het om die span te ondersteun) het ’n soortgelyke boodskap geëggo: “In ’n tyd waarin Suid-Afrika ernstige uitdagings in die gesig staar, het ons saamgestaan tydens die oorwinning in Japan… Ons word ook verenig deur ’n gedeelde begeerte na ’n land waar almal in vrede en gemak kan saamleef, waar almal ’n gelyke kans het om hul potensiaal te bereik.” Hy het die land verder aangemoedig om méér te doen en het ’n beroep op geloofsleiers, tradisionele liggame, politieke partye, kulturele organisasies, sportorganisasies en sake-liggame gedoen om almal saam te werk om ’n meer inklusiewe en samehorige samelewing te bevorder.
Slegs drie dae vantevore (Woensdag 30 Oktober) is ’n groep buitelandse burgers en vlugtelinge, met ’n hofbevel, gewelddadig deur die polisie verwyder. Dít buite die kantoor van die VN-vlugtelingagentskap (VNHKV) in Kaapstad, waar hulle vir ongeveer drie weke gekampeer het. Hulle het hulp gevra om Suid-Afrika te verlaat – waar hulle nie meer veilig voel nie – ná onlangse vreemdelingehaat-aanvalle. Honderde buitelandse burgers word tans deur die Central Methodist Church in Kaapstad gehuisves, nadat hulle uit die Waldorf-arkade, waar hulle betoog het, uitgesit is. Die VN-vlugtelingagentskap het die betogende buitelanders versoek om na hul huise in Suid-Afrika terug te keer, aangesien hervestiging ’n uiters ingewikkelde proses is. Die VNHKV het gesê dat hulle sedert die begin van die betogings met die vlugtelinge en asielsoekers in gesprek was en hulle aangemoedig het om deel te neem aan ’n konstruktiewe dialoog om hul griewe te hanteer en ’n vreedsame oplossing vir die situasie te vind.
Bid asseblief saam met ons vir Suid-Afrika, dat pogings om hierdie pragtige en diverse nasie te verenig, diep en blywend sal wees.
“Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade.” (Hebreërs 10:24)
Saam in Sy diens
Gigi Kotzé en Donnelly McCleland