24 Oktober 2019
ALLES BEGIN MET ’n VISIE : NUWERUS UITREIK
Twee jaar gelede het De Eike daarvan begin droom om ’n verskil te maak, hoe klein ook al, in die lewens van Nuwerus se mense. De Eike se lidmate is toe uitgedaag om saam aan hierdie droom vlerke te gee.
So het die boksie-projek momentum begin kry in die gemeente. Een honderd boksies was vir R100-00 elke verkoop. Binne elke boksie was die volgende artikels verpak: ’n Bybel, ’n waslap en ’n koekie seep, tandeborsel en tandepasta en natuurlik lekkergoed. Binne oomblikke was hierdie 100 boksies betaal en kon die verpakking begin. Lidmate het by die kerksaal opgedaag en onder wonderlike omstandighede was elke bokse selfs met ’n kleurvolle lint gestrik.
De Eike se mense vra toe verder: “Wat van die diere? En net daar het lidmate geld begin skenk om veevoer aan te koop. Tien ton veevoer was tydens ons eerste uitreik na Nuwerus afgelewer.
Die uitreik het twee jaar gelede saamgeval met Nuwerus se basaar. Dit was vir die uitreikspan een van die vele hoogtepunte. Die Saterdagmiddag is die boksies aan die kinders uitgedeel. Nog ’n dankbare hoogtepunt! Daarna het die uitreikspan by mense gaan huisbesoek doen. Wat ’n voorreg was dit nie! Sondagoggend het ds. Chris die erediens gelei waarna die voer aan die boere uitgedeel was. Met dankbare harte het die uitreikspan teruggekeer huis toe.
Hierdie jaar het De Eike ’n legkaart gebou. Tweeduisend stukke is teen R25,00 elk verkoop. Binne een maand was al 2000 stukke uitverkoop! Danksy die finansiële inspuiting wat ons ook van Diaconia vir hierdie doel ontvang het, kon die wiele begin rol! Oktobermaand se uitreik het weer met Nuwerus se basaar saamgeval. Die uitreikspan se visie was om die naweek vir die mense van Nuwerus lekker te maak. Een en twintig ton veevoer, vier bakkievragte kruideniersware, ’n koeltrok propvol kraakvars groente, 150 dosyn eiers, 175kg hondekos en nog vele verrassings was na Nuwerus geneem. Sondagoggend het ds. Chris weer die erediens waargeneem terwyl die uitreikspan die lofprysing en aanbidding hanteer het. Na afloop van die erediens was die tweede besending veevoer aan die boere oorhandig. De Eike se uitreikspan het kringetjie rondom die boere en hulle gesinne gemaak terwyl ds. Johan ’n aangrypende gebed gedoen het. Wat ’n heilige oomblik was dit nie gewees nie!
De Eike is dankbaar om saam met Nuwerus se mense in die voetspore van Jesus te leef. Mag hierdie band van Jesusliefde tussen die twee gemeentes ’n getuienis wees vir die wêreld: “Hier is dit nie van belang of iemand Griek of Jood is nie, besny of nie besny nie, andertalig, onbeskaaf, slaaf of vry nie. Hier is Christus alles en in almal” (Kolossense 3:11).
Chris Barnardo