8 November 2019
Goeie môre!
Nuwerus…… sjoe…… daardie naam is verewig in my hart gegraveer en sal altyd deel van my lewe bly – net so ook die gemeenskap van Nuwerus! Tot 2jr gelede het ek nie eens geweet daar bestaan ‘n dorp met die naam Nuwerus nie, tot ek van die 2017 Belydenisklas uitreik na Nuwerus gehoor het. Ek moes baie vinnig by Mnr Google uitvind waar presies Nuwerus geleë is – wou nou nie my onkunde so aan die klok hang nie…
Die 2017 Nuwerus uitreik was my eerste betrokkenheid by ‘n uitreik – het glad nie geweet wat om te verwag, of wat ek als gaan beleef nie. Op daardie stadium was my fokuspunt net om soveel moontlik veevoer ingesamel te kry. Op hierdie stadium was ek nog ‘n “harde mens”, want ja ek het die vee baie jammer gekry omdat hul nie voer het nie, maar dit het nog nie my menswees aangeraak nie….tot ek op Nuwerus gekom het! Ek wil amper sê, wat ‘n skok was dit nie vir my siel nie. Soveel botsende emosies wat ek / ons daardie naweek beleef het, die voorreg wat ons gehad het om ‘n kykie in die boere en gemeenskap se lewens kon gehad het, kon deel in hul hartseer maar ook in hul vreugde oor die bietjie voer wat elkeen ontvang het – sommige boere het my aan ‘n wildsbokkie laat dink wat bokspring in die velde wanneer dit reën. ‘n Dogtertjie se blydskap oor iets so klein soos ‘n waslappie – dit het my totaal omgegooi. Ek het net besef, Nuwerus het ‘n verandering in my as mens gebring en ek sal nooit weer dieselfde wees nie.
Met hierdie uitreik het ons darem ‘n idee gehad wat op ons wag, maar weereens, jy kan jouself emosioneel & fisies hoe probeer voorberei, maar jy word weer omgedop. Dit was ‘n baie emosionele naweek vir ons almal, veral omdat jy nou al die gemeenskap beter leer ken het. Hul hartseer, moedeloosheid, verslaentheid, hul gevoelens, word joune, jy kan nie anders as om by hul betrokke te wil wees nie, om hul te probeer moed inpraat, help waar jy kan. Ons het saam met hul gehuil – trane van hartseer, maar ook trane van hoop en vreugde, drukkies uitgedeel en ontvang – vir veral die geharde boere moes dit dalk baie moeilik gewees het om hul gevoelens met ons te gedeel het & ons het besef dit moet ons sagkens hanteer.
Nuwerus, die droogte het ons bymekaar uitgebring, jul is nou onlosmaaklik deel van my & Sias se lewens. Ons glo, hoop, vertrou & bid dat ons in die toekoms nog baie saam met jul gaan beleef – veral ook wanneer die droogte gebreek word en jul velde weer geil sal staan met voer en blommetjies. Hierdie uitreike gaan nie net Nuwerus droogtehulp uitreike wees nie, maar ook uitreike in goeie tye.
Mag die Almagtige Vader Sy seën mildelik oor jul (asook ander droogte geteisterde gebiede) uitstrooi, mag Hy jul seën met broodnodige reën, maar ook met geestelike reën. Ons bid jul net voorspoed & genade toe.
Met baie liefde
Sanet